‘n Lewe van integriteit is ‘n oop lewe voor God,
‘n lewe sonder geheime en alewige verskonings.
Kyk na enkele voorbeelde uit die Woord van God:

Jy sukkel met integriteit as jy soos Adam sê jou sonde is eintlik
Eva se skuld, en soos Eva sê dit is eintlik die slang se skuld.
Jy sukkel met integriteit as jy soos Simson agter heidense
vroue aanloop en God in die proses verraai.
Jy sukkel met integriteit as jy soos Dawid begeerlik na ‘n
ander se liggaam kyk en sonde doen om jou doel te bereik.
Jy sukkel met integriteit as jy soos Abraham vir God lag as Hy
‘n belofte maak dat Sara ‘n kind sal hê.
Jy sukkel met integriteit as jy soos Petrus by die vuur in die
binnehof maak asof jy Jesus nie ken nie.
Jy sukkel met integriteit as jy soos Jona na Tarsus toe vlug
as God jou in Nineve wil hê om Hom daar te verkondig.

Aan die ander kant:
Jy het integriteit as jy soos ‘n Abraham bereid is om selfs
jou eie kind op die altaar te sit omdat God jou beveel om
dit te doen.
Jy het integriteit as jy soos Daniël en sy vriende weier om
heidense gebruike in ‘n vreemde land te aanvaar, of voor
vreemde gode te buig, al kan dit jou verseker jou lewe kos.
Jy het integriteit as jy soos Dawid vreesloos voor Goliat
staan met ‘n slingervel en ‘n hart vol geloof in jou almagtige
God wat die onmoontlike kan doen.
Jy het integriteit as jy soos Petrus rustig tussen die wagte
in die tronk aan die slaap kan wees, vol vertroue in God,
al hang daar ‘n doodsvonnis oor jou kop.
Jy het integriteit as jy soos Saggeus daar in Jerigo al jou
geld in Jesus se hande sit en dit met die armes rondom
jou begin deel.
Jy het integriteit as jy soos Stefanus getrou bly aan die
Here, selfs al gooi ander jou met klippe dood.

Integriteit word geleef! Jy het dit nie. Jy leef dit,
volgens God se wil. Jy leef soos Hy wil hê, maak nie
saak wat die prys mag wees nie!

Ernest