Die hele eerste Petrus-brief het ten doel om Christene wat
swaarkry, ter wille van hulle geloof, aan te spoor om te volhard.
Petrus wil hulle nie net help om vas te byt nie. Hy wil hulle in hulle
swaarkry leer om nog meer toegewy aan God te leef!
Hoe kry hy dit reg? Wat sê Petrus vir Christene wat selfs bespot
word omdat hulle in Jesus Christus glo?
Hoe beweeg Hy hulle om selfs dán nog meer toegewy aan God te leef?

Die eerste en belangrikste wat Petrus doen is om gelowiges opnuut aan
Christus bekend te stel! Hulle moet Hom so gou moontlik leer ken as die
lydende Seun van God wat sy eie lewe vir al sy mense weggegee het!
Daarom roep Petrus gelowiges op met die woorde:
“Kom na Jesus toe!” – 1 Petrus 2:4.
Hy is soos ‘n steen wat deur die bouers verwerp is, maar tog het God
Hom gebruik om die kosbaarste steen in sy nuwe aardse huis te word.
Jesus is die hoeksteen op wie die ganse kerk van die Here staan!
Hy het dit deur sy eie dood heen geword!

Dáárom moet gelowiges nie dink dit sal ooit maklik wees om Jesus
na te volg in hierdie wêreld nie! As Jesus gely het ter wille van die
koninkryk van God en God se eer, moet gelowiges dit ook te wagte
wees. Dit is hoe God se pad loop, van lyding na heerlikheid.

Dit is juis in die navolging van Jesus in en onder alle omstandighede,
wat Jesus se volgelinge volharding aanleer! Hulle ontdek dat swaarkry
ter wille van hulle geloof hulle hele ingesteldheid ten opsigte van die
lewe verander.

Petrus stel dit treffend só in Die Boodskap in 1 Petrus 4:1-2:
“Jesus het as mens hier op die aarde ook baie gely. As julle swaarkry,
moet julle net soos Hy maak. Sy voorbeeld moet julle sterk maak.
Iemand wat so swaarkry as mens, hou hom nie meer met die sonde
op nie. Sy ingesteldheid in die lewe is anders. Hy hardloop nie die
hele tyd agter sy eie neus aan en doen net wat vir hom as mens lekker
is nie. Nee, al wat ‘n Christen graag die res van sy lewe wil doen,
is dit wat God – en nie mense nie – gelukkig sal maak.”
Mag die Here ons in lyding leer om te volhard ter wille van Hom!

Ernest