Mense gebruik soms die uitspraak: “Niks wat die moeite werd is,
kom sonder swaarkry nie.” As ons dink dit is waar van die lewe in
die algemeen, weet ons, as gelowiges in die Here, dat dit nog meer
waar is van geloof! Christenskap gebeur nie sommer vanself nie.
Dit gaan nie net oor kerk toe gaan, en lees nou en dan jou Bybel nie.
Geloof, Bybelse geloof in God, vra harde “werk”. Dit vra dissipline
en toewyding aan God.

Jesus het dit nie op aarde “maklik” gehad nie. Elke tree was vir Hom
‘n opoffering op pad na die kruis toe. Om sy hele lewe te gee, tot aan
die kruis. Hy moet as sondelose tussen sondaars kom bly. Ons kan dit
eintlik nie bedink nie. Hy wat uit die hemel kom, moet op die aarde in
die veld kom slaap. Hy moet deurentyd die spotstem van mense hoor.
Sy aardse lewe was verseker nie in eer en glorie gehul nie.
Vanaf geboorte tot die dood aan die kruis was vernedering. Dit is die
pad wat Hy kies ter wille van God se koninkryk en eer, en dit is die pad
wat sy volgelinge ook sal stap in ‘n wêreld wat Hom verwerp.

Swaarkry is nooit deur die vroeë Christene as straf verstaan nie.
Vir hulle was dit deel van hulle geloof. Hulle het geweet:
Om Jesus te volg beteken swaarkry. Dit is om op Jesus se pad te stap,
deur swaarkry heen. Dit geld elkeen van ons wat ‘n Jesus-volgeling is!
Moenie ooit dink jou geloof is daarmee heen as jy swaarkry ter wille
van Jesus nie!

1 Petrus 4:12-13: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef
waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met
julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van
Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy
wederkoms in heerlikheid.”

Kyk in moeilike tye na Jesus! Wees bly en opgewonde dat jy ook
ter wille van God op sy pad mag stap. Wat ‘n voorreg om saam met
Jesus op dié pad te stap, ter wille van God te stap! En onthou,
op hierdie dikwels moeilike pad: Die Here los nooit jou hand nie!
Al is die pad hoe steil! Jy groei geestelik as jy leer om te volhard.
Wanneer jy moet swaarkry om Jesus te weerkaats,
lei dit tot geestelike verdieping in jou lewe! Volhard!

Ernest