1 Petrus 1:6-7: “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle
‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings,
sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is
baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid
van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof
moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig
mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Goud word gelouter totdat net die suiwer goud oorbly. Dit is ‘n
tydsame en duur proses, waarin die goud in vuur skoongebrand
word. Al die onsuiwerhede moet eers verwyder word voordat die
suiwer goud in goudstawe gegiet word. Petrus beskryf dat dieselfde
proses dikwels in gelowiges se lewens afspeel. Swaarkry is dan die
smeltkroes om onsuiwerhede uit ons lewe te verwyder.
Daarom moet gelowiges nie gewoon negatief staan teen
dinge wat hulle as teenstand of terugslae sien nie.
Ons geloof moet ook gesuiwer word.

‘n Lewe vir God, wat God se eer in woord en daad reflekteer,
val nie sommer net uit die lug nie. Dit is ‘n gelouterde lewe.
Die Woord van God is vol voorbeelde daarvan. Dit is die resultaat
van ‘n tydsame en selfs pynlike proses waar allerlei onsuiwerhede
uit ons verhouding met God verwyder word. Ons eie lewe moet ook
in die smeltkroes beland om ons lewe vir die Here te heilig. Dit bring
groter toewyding en gehoorsaamheid.
Daarom gebruik die Here ons moeilike omstandighede
om ons te leer om nog nader aan Hom te leef.

Belangrik: God stuur nie moeilike omstandighede op ons pad om
ons te leer om Hom te gehoorsaam nie. Daarvoor gebruik God sy
Woord en sy Gees. Sy Woord lei ons elke dag om reg te leef. Sy Gees
oortuig ons elke dag van die Waarheid. God gebruik jou moeilike
omstandighede om sy doel te bereik. Het jy die verskil opgemerk?
God stuur nie slegte dinge op jou pad om jou allerhande geestelike
lesse te leer nie. Hy gebruik wel slegte dinge in jou lewe om jou te
leer om nog meer op Hom te vertrou.

Ons swaarkry laat nooit ooit vir God verleë nie! Dit word in sy
hand louterings geleenthede om die onsuiwerhede uit ons lewe
te verwyder. Daarom sê die laaste deel van vers 7 die egtheid van
ons geloof moet ook getoets word “... sodat dit lof en heerlikheid
en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Ernest