1 Petrus 2:12: “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat,
al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle
voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van
afrekening.”
Die eerste ding wat baie van ons gewoonlik doen wanneer ons
onregverdig behandel word is om op ons agterpote te spring en
terug te kap. Ons wil stry en baklei vir ons regte. Ons wil ons eie
eer ten alle koste herstel. Dan maak dit nie saak wie almal die
spit afbyt nie. Ons is dan gefokus op terugpraat en terugdoen
ter wille van onsself. Ons eer.

Soms moet gelowiges regtig stilbly. Hoekom? Omdat dit die
regte ding is om te doen. Wanneer is dit stilbly tye? Volgens
Petrus is dit tyd wanneer gelowiges onregverdig behandel
word ter wille van hulle geloof. Dan moet Christene dit
aanvaar as deel van die pad van geloof, wanneer hulle bespot
of verkleineer, of selfs vervolg word. Dan mag hulle glad nie
wraak soek nie.

Jesus self dien as ons voorbeeld in hierdie verband. Ons moet
in Jesus se voetspore volg. Wie het groter eer gehad as Jesus,
en wie sou meer rede tot verset gehad het as Jesus?! Tog lees
ons in 1 Petrus 2:22-23: “Hy het geen sonde gedoen nie en uit
sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie. Toe Hy beledig is,
het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig
nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.”

Christus het alles in God se hande oorgelaat.
Ons moet dieselfde doen. Ons moet leer om stil te bly
wanneer ander mense met ons spot oor ons geloof. Ons moet
weet wanneer om die minste te wees, en dan moet ons dit ook
wees. Ons moet dan nie beledigend wees en allerlei oordele
teenoor ander mense uitspreek nie.
Jesus Christus is ons voorbeeld. Hy wys ons hoe ons lewe in
praktyk moet lyk. Hy lê die riglyne neer vir ‘n lewe wat aan God
toegewy geleef moet word. Daarom hoef ons nie altyd op ons
regte te staan nie. God sal sorg dat die reg in ons lewe geskied.
Plaas jou lewe met groot vrymoedigheid in God se hande.
God sorg vir jou in alles!

Ernest