God wil ons die wysheid gee om te weet
wanneer om te praat en wanneer om stil te bly.

Partykeer moet ons in wysheid stilbly, en ander kere
verseker nié stilbly nie. Wanneer ons toegewy aan God leef,
moet jy ook weet wanneer om stil te bly wanneer onreg
geskied, en wanneer om met alles in jou daarteen te
protesteer.
Daar is ‘n tyd om stil te bly en ‘n tyd om te praat.

Ons moet stilbly as ander ons beledig oor ons geloof,
soos ons gister gesien het. Eenvoudig omdat God so sê.
Ons doen dit in die voetspore van Jesus – 1 Petrus 2:22-23.
Daar is egter sekere soorte onreg waaroor gelowiges
eenvoudig nie mag swyg nie. Ons moet byvoorbeeld reageer
wanneer mense onregverdig deur ander vertrap word.

Om vir die Here te leef beteken nie ons sit heeldag en Bybel
lees en bid, terwyl die wêreld rondom ons vergaan nie. Om vir
die Here te leef vra veral dat ons ook midde-in die wêreld ‘n
aktiewe getuie vir God sal wees. Dit vra soms leeuemoed,
want jy moet dan soos ‘n profeet van ouds die onreg rondom
jou ontmasker en aanspreek. Jy moet soos ‘n Natan vir die
magtige koning Dawid, wat sonde doen, gaan sê:
“Jý is die man! - 2 Sameul 12.

Om toegewy aan God te leef beteken om te rebelleer teen
die sonde. Dit vra opstand teen al die kwaad in jou en om jou.
Dit vra dat jy jou eie en ander se maskers sal afruk wanneer
God se eer en koninkryk op die spel is. Ons moet kwaad,
wat in die donker gepleeg word, aan die lig bring.
Moenie stilbly wanneer jy moet praat nie!

Ernest