Sonde kan partykeer hardnekkig in jou lewe vassit. Jy kry net nie
die een of ander hardnekkige gewoonte of lelike gedagtes afgeskud nie.
Kinders van die Here is egter ernstig oor geloofsgroei en aanvaar nie
sulke sonde-probleme eenvoudig gelate nie. Jy stoei daarmee. Jy bied
weerstand daarteen. Meer nog, jy worstel, ook en veral in gebed
daarmee. Jy gee nie boedel oor nie. Jy aanbid God en lewe vir Hom
bo alles, en jy laat nie maar sonde net lêplek kry in jou lewe nie.
Vir ons wat vir die Here wil leef met ons hele lewe, het God nie net
die finale sê in ons lewe nie. Nee, meer nog... Hy het die enigste sê!
Hy verwag van ons om teen die sonde te stry. Hy vra die grootste
weerstand van ons teen sonde in ons lewe. Altyd.
Ons moet regtig nie in geestelike middelmatigheid verval nie.
Ons moenie gelate nou en dan die knie buig voor sonde nie. Dan
soek ons allerhande redes vir ons “swakheid”. Ons begin rondom
ons kyk en sien die ander “skynheiliges” raak wat, “net soos ons”,
van die een sonde na die ander aankarring. Ons begin dan voel ons
is darem deel van ‘n “groep” wat hiermee sukkel. Ons raak sagter
op onsself as gevolg daarvan, en dan soek ons verskonings hoekom
ons in swakhede verval. Kort voor lank het ons dan “goeie” rede
hoekom ons doen wat ons doen.
Wanneer ons voor God kom staan, regtig in sy teenwoordigheid
kom met doelbewuste oorgawe, verdwyn ons verskonings en
“regverdiging” van onsself soos mis voor die son. Dan weet jy dat jy
net jouself probeer bedrieg. Wanneer jy heiligheid in jou lewe vir God
nastreef, maak jy nooit vrede met “tekortkominge” nie.
Jy handel doelbewus daarmee: Jy bely jou sonde voor God. Jy doen
dit met die doel om daarmee te breek. Jy aanvaar verantwoordelikheid
vir jou dade in die verlede, en vir jou dade vir elke dag vorentoe. Daarom
bely jy ook jou afhanklikheid van God vir elke tree vorentoe, en jy gaan
stap dit in sy Naam. Al het hierdie proses al hoeveel keer in jou lewe
gebeur, opreg gebeur, dan doen jy dit weer en weer. Jy gee nooit op nie.
Nooit nie. want jy weet jou redding lê in Christus alleen, en in Hom en
deur die Heilige Gees kan en sal jy volhard.
1 Petrus 5:6-9: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die
kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy
bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir
julle. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond
soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie:
dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort
lyding verduur.”
Lees dit weer, oordink dit, en praat met die Here daaroor.
Ernest