Ons vrug is nie ter wille van onsself nie, maar ter wille van God!
Ons geestelike lewe moenie om onsself draai nie. Dit gebeur
makliker as wat ons dink. Dit is ook ‘n slenter van die duiwel.
Ons kan so maklik in ‘n geestelike selfondersoek-sindroom vasval.
Dan is ons elke dag besig om in die donker laaie van ons lewe en
verlede rond te krap. Ons begin gou weer wonder of God ons regtig
vergewe het vir die sondes waarvoor ons al op ons knieë voor Hom
was.

Enige oorbeheptheid met ons geestelike vordering, of oorbeheptheid
met die gebrek aan ons geestelike vordering, lê ons dan lam! Ons begin,
aan die een kant, baie van onsself dink, of aan die ander kant, begin ons
vasval in die put van geestelike minderwaardigheid. Ons is dan dikwels
van vroeg tot laat ontevrede oor ons geestelike koudheid.
Ons voel deurgaans dat ons “te min doen vir die Here”.

Die oplossing vir hierdie gedurige selfondersoek is eenvoudig:
Hou op hiermee. Hoekom is dit nie regtig nodig nie? Wel, in die eerste
plek fokus ons dan meer op onsself as op die Here. Verder is dit ook nie,
in die eerste plek, óns taak om ons eie geestelike vordering te monitor nie.
Ons eie insig is beperk daarin, en ons dra ook nie geestelike vrug ter wille
van onsself nie! Ons groei geestelik tot eer van God en tot voordeel van
ander mense! Dit is belangriker dat God self ons geestelike groei sien.
Ons is in elk geval te subjektief en toon dikwels te min insig in onsself.
Ander mense sien ook ons geestelike groei raak. So skryf Paulus in
1 Timoteus 4 vir die jong Timoteus.
Want Paulus sien dit in Timoteus raak!

Ons hoef nie in ons eie oë tot geestelike reuse te groei nie. Ons het
nie genoeg insig in onsself nie. Net God kan dit doen deur sy Gees.
Wanneer ons self hierop fokus word dit verbloemde selfsug en eie eer.
Ons geestelike heiligmaking is God se werk, en skuif die fokus juis weg
van onsself na Hom, en ons medemens.
Dan groei ons in die regte rigting.

Hou vandag en elke dag net aan en aan, om al die dinge te doen wat
God van jou verwag. Lees die Woord van God en volhard in gebed.
Doen wat jou hand vind om te doen, wat goed is, en wat tot eer van
God is. God sal jou die vrug laat dra, die vrug van die Gees van
Galasiërs 5:22-23. Dit is God se oes!

Ernest