Ons moet versigtig wees daarvoor dat ons geestelike lewe
nie net om onsself begin draai nie. Ons kan so maklik in ‘n
geestelike selfondersoek-sindroom verval. Dan is ons gedurig
besig om in al die donker laaie van ons lewe te krap en ons bly
terugkrabbel op negatiewe dinge in ons lewe en verlede.
Natuurlik moet ons ons sonde bely en uit die vergifnis van die
Here leef. Maar ‘n oorbeheptheid met ons eie geestelike vordering,
of die gebrek aan geestelike vordering, kan ons baie gou lamlê.
Ons is naderhand so besig om aan onsself te dink dat ons óf
geestelik selfvoldaan raak, óf geestelik minderwaardig raak.
Meeste van ons voel dan ook ons “doen te min vir die Here”.
Dit klink baie vroom om so te dink en te wil verbeter daarin.
Ons is dan heeltyd besig met selfondersoek, en groei nie.
Wat is die oplossing daarvoor? Eenvoudig. Hou op daarmee!
Dit is nie regtig nodig nie. Hoekom nie? Want dit is nie in die eerste
plek ons taak om ons eie geestelike vordering te monitor nie. Ons dra
nie geestelike vrug vir onsself nie. Ons groei geestelik tot eer van God,
en tot voordeel van ander mense. Dit gaan nie om onsself nie!
God sien ons geestelike groei, en dit is die heel belangrikste.
Ander mense sien dit ook. Dit is juis wat Paulus aan Timoteus
skryf in 1 Timoteus 4. Lees dit gerus.
‘n Lewe vir die Here is presies dit: ‘n Lewe vir die Here!
Dit het nie ten doel om onsself “al heiliger te maak” nie. Ons kan nie
in ons eie oë selfvoldaan raak en tot “geestelike reuse” groei nie. Nooit!
Dan is dit maar net verbloemde selfsug en eersug. Ons geestelike fokus
moet juis weg van onsself skuif. Ons moet net meer en meer bewus word
van God, en sy grootheid. Ons moet meer bewus word van die mense
rondom ons en hoe die Here, deur ons, by hulle verteenwoordig word.
Hy werk! Deur ons... Hoe minder ons met onsself behep is, hoe meer
groei ons in die regte rigting. Hou maar net aan om vandag te doen wat
die Here deur jou wil doen. Dit wat Hy van jou verwag. Nie dit wat jy van
jouself verwag nie. Dit is nie noodwendig dieselfde nie.
Volhard in gebed. Lees die Woord. Doen wat jou hand vind om goed te
doen. Laat die res aan God oor. Hy sal baie meer deur jou doen as wat jy
dink, of selfs bid. Hy sal ook sorg dat jý die regte vrug dra, vir Hom!
Die vrug en die oes behoort aan Hom!
Ernest