2 Korintiërs 7:1: “Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons.
Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig,
en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.”
Om jou volkome aan God toe te wy...
Ywer is ‘n skaars artikel in vandag se lewe. Min mense wil meer
doen as wat hulle moet doen. As almal dus wegkom met min doen,
hoekom moet ek meer doen? Hierdie gesindheid is aansteeklik,
in alle aspekte van jou lewe. Ook geestelik.
Dit maak selfs Christene passief.

‘n Lewe, “volkome aan Hom toegewy”, is ‘n lewe vol ywer vir
die Here. Ywerig om God te dien. Om te doen wat Hy vra. Wanneer
jy deur die Here aangeraak is, kan jy nooit bly soos wat jy was nie.
Jy verander! Jy weet dat God jou neem soos jy is, maar Hy los jou
nooit só vir die res van jou lewe nie! Dan begin die proses waarin
God jou laat groei. Hy doen dit! Alles! Hy verander jou, om al hoe
meer sý beeld uit te straal! Jou eie onvolmaaktheid is nie meer
langer ‘n verskoning waaragter jy wegkruip nie.

Ywer vir die Here is onmisbaar in geestelike groei. Dit lyk nie in
almal se lewe presies dieselfde nie. Maar jy is nooit weer tevrede
met middelmatigheid vir die Here nie. Dan wil jy jou allerbeste vir
die Here leef, en Hy doen dit deur jou! Jou beste opoffering. Jou
beste toewyding. Jou beste studie van die Woord. Jou soek na God
se wil. Jou gebedslewe wat lewe. Jy droom nie net oor wat die Here
deur jou kan en wil doen nie. Jy doen dit. Jy is beskikbaar met ywer,
en Hy werk dit deur jou. Hy doen dit deur jou.
Die kern daarvan is die wete dat jy alles wat jy doen, vir God doen.
En jy dóén dit, vir Hom!

Ernest