God reken elkeen wat in Hom glo tot ‘n heilige.
Deur Hom uitgekies en afgesonder om vir Hom te leef,
en om Hom in hierdie wêreld te verteenwoordig.
Om vir God te leef, om heilig te leef, is nie ‘n opsie
wat jy nou en dan kan uitleef soos jy wil nie. Dit is
verseker ook nie iets wat net sommige gelowiges
doen nie. Om God te dien beteken om dit op sy
voorwaardes en volgens sy wil te doen.

Die rede? Want Hy is die heilige God! 1 Petrus 1:16:
“Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek
is heilig.”

Alles wat God doen weerkaats sy heiligheid.
As God se verteenwoordigers in hierdie wêreld,
vra Hy van ons om ook heilig te lewe. Die wêreld
moet kan sien wie God se kinders is. Hulle leef met
een doel voor oë, naamlik om God te eer met hul
hele lewe. Daarom roep God ons tot ‘n heilige lewe.

Dit is ‘n roeping, nie ‘n keuse nie. Dit is ‘n opdrag
van God, en nie maar net ‘n wens wat Hy uitspreek
nie. Dit is ‘n lewe wat God verheerlik en ons elkeen
wat ‘n kind van God is, is daartoe bestem. Ons is in
hierdie wêreld omdat God ons hier geplaas het.
Hy het ons geskep en deur die Gees in Christus
herskep om te beantwoord aan die doel van ons
bestaan: Ons moet God se heiligheid uitleef!

Ernest