Nederigheid vorm ‘n lewensbelangrike deel van ons geestelike lewe.
Sonder nederigheid is ons in ons menslike aard gedoem tot hoogmoed.
Dan is ons eenvoudig heeltyd op onsself gerig en dien onsself.
Ons vermom dan ook onsself met geestelike vroomheid. Ons loop
ook hierdie hoogmoedige geestelike “vromes” in die kerk raak, en,
moenie verbaas wees daaroor nie. Ons loop hulle ook in die Bybel raak.
Dink maar aan die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Dit sit so diep ingeburger
in ons menswees om belangrik te wees en onsself te dien.
Ons is dikwels nog nie genees van hierdie sug na erkenning nie.
Mense so reg na die Here se hart is nie hoogmoedig nie.
Die Here se kinders is nederig. Dit het niks met ‘n sterk
persoonlikheid te doen nie. Jy is eenvoudig nederig. Jy kan nie
anders nie want die Gees woon in jou. Deel van die vrug van die Gees
is nederigheid, Galasiërs 5:22-23. Kyk net weer wat is regtig die vrug
van die Gees: Liefde. Vreugde. Vrede. Geduld. Vriendelikheid.
Goedhartigheid. Getrouheid. Nederigheid. Selfbeheersing.
Kinders van die Here streef nie na erkenning nie. Hulle leef met vreugde
en vrede. Hulle wil regtig nie die kollig op hulleself hê nie. Hulle doen wat
hulle doen vir die Here, en wil Hom daarmee eer. Jy leef nederig,
deur die Gees in jou.
Petrus roep gelowiges ‘n paar keer in sy eerste Petrus-brief op tot
nederigheid. In 1 Petrus 5:5 vertaal Die Boodskap dit so: “Moenie te veel
van julleself dink nie, maar ken liewer julle plek. Daar staan mos geskryf:
“God is nie aan die kant van mense wat te veel van hulleself dink nie;
Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig
te wees.” ‘n Nederige mens mors nie tyd op jou openbare beeld nie.
Jy meet nie jouself meer teen ander mense nie. Jy dien hulle net!
Jy lééf eenvoudig deur die Gees in jou! Jy is nie bekommerd oor hoe
gewild of geliefd of bekend jy is nie.
Al wat vir jou saak maak is God se grootheid.
Jy leef net vir die Here se goedkeuring.
Ernest