Om heilig te lewe beteken dat jy uitgekies is en afgesonder is
deur die Here self om as kind van die Here vir Hom te lewe!
Om heilig te leef verander jou binnekamer, jou stiltetyd en
gebeds-tyd, in ‘n erediens. Jou gesprekke met die Here in jou
binnekamer word fees-geleenthede en heilige oomblikke.
Dit verander ook jou lewe daarbuite na ‘n erediens vir die Here!
Dit wat jy in jou binnekamer by die Here ontvang bly nie daar
agter nie! Dit word gesien in alles wat jy sê en doen.
1 Petrus 2:17 sê: “Julle moet alle mense respekteer en julle
medegelowiges liefhê...” Hierdie vers sê dat gelowiges se leefstyl
in die wêreld ‘n voorbeeld vir ander mense moet wees. Ons moet
álle mense respekteer. Prakties beteken dit dat ons almal met wie
ons te doen het so beleefd en gemanierd moontlik moet behandel.
Dink maar aan wat ons in restaurante sien... hoe iemand bid voordat
hulle eet en net daarna die kelner vernederend voor die ander mense
behandel...
Dit help veel ons is verskriklik op ons plek wanneer ons voor God staan,
maar ons trap op ander nadat ons amen gesê het. Ongemanierdheid
en onvriendelikheid by kinders van die Here is een van die slegste
“advertensieborde” vir God.
Gelowiges moet vriendelik wees teenoor almal.
Vriendelikheid is óók deel van die vrug van die Gees – Galasiërs 5:22-23.
Nie een van ons het ‘n hemelse vergunning ontvang om ongeskik met
enige ander mens te wees nie. Ons het eenvoudig geen reg voor die Here
om lelik met ander mense te wees nie.
Die vrug van die Gees raak ook jou gesig aan. Jy lyk meer vriendelik en is
meer vriendelik. Jy is daarom ook meer toeganklik.
Vriendelikheid vat grond in jou alledaagse lewe. In vriendelike woorde,
in hoflike dade. ‘n Kind van die Here wil nie anders nie en kan nie anders
nie, wanneer jy leef deur die vrug van die Gees in jou.
Ernest