Ons leef in ‘n tyd waarin byna alles in kits-verpakkings kom.
Kitskoffie, kitsmelk, kitsresepte, kitsdieet, kitsrykdom... en kitsgeloof.
Die mense van ons tyd wil alles vinnig en maklik hê. Kitsverpakkings.
Advertensies sê jy kan die wonderlikste dinge regkry sonder om ‘n
spier te verroer. Jy kan kits-gewig verloor. Jy sluk net dieet pille.
Jy kan spiere bou deur net ‘n apparaat aan jou te koppel. Jy kan kits
ryk raak deur die lotto te speel. Die alewige beloftes van “rykdom”.
Alles kom vinnig en maklik.
Ook geloof... Vir baie Christene van ons tegnologiese era moet alles
op God se terrein ook vinnig en in ‘n kits gebeur. Kits-preke. Kits-
eredienste. Kits-stiltetye, uit kits-Bybelstudies. Liggewig geestelike
boeke wat jy in vyf-minuut stiltetye kan afhandel. Maklike antwoorde.
Kits gebed en kits gebedsverhorings!
Die waarheid in die regte wêreld, teenoor die advertensiewêreld,
is dat alles nie so maklik en vinnig werk nie. Dit is ‘n droom wat deur
die elektroniese media aan ons verkoop word, eintlik in ons keel
afgedruk word. Wanneer mense in die kerk by jou die indruk en
verwagting wil skep dat geloof ook so maklik werk, moet jy lig loop.
Geloof en toewyding aan die Here kom nie eenvoudig in maklike
doen-bare verpakkings nie. ‘n Lewe van toewyding aan die Here
is nie ‘n kits-lewe nie. Dit kos baie. Regtig baie.
Daarom praat die Bybel so dikwels van volharding.
Hebreërs 12:1-2: “... en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê,
met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en
Voleinder van geloof...” Ook Hebreërs 13:13-14: “Laat ons dan
nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra
wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste
verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.”
Loop lig vir kits geloof en kits-groei in jou geloof.
God het jou te lief om vinnig met jou klaar te maak.
‘n Lewe van toewyding kos baie. Dit vra dat jy jouself dag
na dag kruisig. Dat jy jou eie kruis optel en Jesus volg. Dit is nie
maklik en ‘n grap nie. Kom ons wees eerlik daaroor. Partykeer is
jy nie “lus” nie. Of jy is “te besig”. Of jy voel die pad is te “steil”.
Of jy voel God is so “ver”. Of jy het nie die moed om weereens
“stroomop” te wees nie.
Wanneer jy ‘n kind van die Here is en dit ernstig bedoel met jou
geloof, loop jy hierdie pad. Jy betaal die prys daarvoor. Jy druk
deur in die krag wat die Here gee. Jy omhels sy genade en liefde.
Jy leef met integriteit. Jy het die prys goed bereken toe jy vir
Jesus gekies het. Nou hou jy jou woord. Kom wat wil. Jy volhard.
Ernest