So dikwels soek ons vreugde in die groot dinge wat met ons gebeur.
Soos ‘n lekker vakansie, of ‘n groot geskenk. Wanneer ons net vreugde
in die groot dinge in ons lewe ervaar of verwag, gaan ‘n groot deel van
ons lewe se vreugde by ons verby. Ware vreugde is veral ook in die
“klein dingetjies” van die lewe te vind. Dit is soos stukkies onontdekte
goud. Die Prediker het aanvanklik ook na vreugde in die groot dinge
gaan soek. So beskryf hy dit in Prediker 1 en 2. Eers het hy wysheid
nagejaag. Daarna plesier, geld, drank en mag. Maar dit alles was net
‘n dolle gejaag na wind. Dit het geen blywende vreugde gebied nie.
Sy lewe was steeds leeg en sonder betekenis.
Gelukkig het die Prediker sy fout gou ontdek. Hy het agtergekom dat
die vreugde van die lewe nie slegs te vind is in die “groot” dinge van
die lewe nie. Ware vreugde, die vreugde wat God gee, is veral ook
geleë is die klein dingetjies van die lewe wat raakgesien en raak-geleef
moet word. God se vreugde wat Hy aan ons gee is nie te koop op die
groot markplein van die lewe nie. Nee.
Vreugde is te vind in die klein dingetjies waarmee ons deurlopend
geseën word deur die Here. In ‘n stukkie brood. In ‘n glasie wyn.
‘n Bekertjie koffie. ‘n Lekker geselsie. ‘n Vuurtjie. In dit wat met
dierbares gedeel word. Vreugde is sommer ‘n armlengte van jou af.
En dit is ook in jou, in jou hart. Dit is deel van die vrug van die Gees
– Galasiërs 5:22-23.
Vreugde is binne elkeen se bereik. Regtig.
Ons moet net ons oë oopmaak en om ons kyk en sien! Ons moet net
ons hand uitsteek en neem. Soveel wat God gee. Ons moet net ons
hart oopmaak en omhels. Vreugde is ‘n goeie vriend of vriendin.
Om saam met ‘n lewensmaat te eet en te koffie. Om ‘n familielid te
verras met ‘n kuier. Vreugde is om bly te wees oor die mense wat die
Here oor jou pad bring. Om Hóm in hulle te sien. Vreugde is om die
stukkie lewe te vier wat jy saam met ander het.
Vreugde is Psalm 16:11: “U leer my hoe om te lewe. By U is daar
oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.” Vreugde,
oorvloedige vreugde en blydskap, is in die lewe saam met die Here,
in groot en klein dingetjies!
Ernest