Ons ervaar dikwels vreugde as die lewenspad gelyk is,
en gebrek aan vreugde sodra ons swaarkry. Prediker 9:2-3 is
‘n aangrypende teks in die Bybel: “Een en dieselfde lot tref almal:
die regverdige en die goddelose, die goeie, die reine en die onreine,
die een wat offer en die een wat nie offer nie. Soos dit met die goeie
gaan, so gaan dit met die sondaar... Die ellende met alles wat in die
wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref...”
Dadelik dink ons: Wat ‘n donker prentjie!? Maar dit is duidelik:
Volgens die Prediker waarborg geloof geen tydelike byvoordele hier
op aarde nie. Ons het geen rég op spesiale voorkeurbehandeling
bloot omdat ons glo nie. Dink mooi daaroor: Dan sou almal glo
ter wille van wat húlle daaruit kon kry, en nie ter wille van die
eer van God nie!

Dieselfde krisisse tref almal. Gelowiges en ongelowiges.
Christene word ook siek, speel bankrot, word beroof, is in
motorongelukke, gaan dood, net soos met ongelowiges. Geloof bied
nie gelyk-paadjies of kortpaadjies nie. Geloof is nie watte waarin
gelowiges toegedraai word, en wat hulle vrywaar van die stampe
en die stote van die lewe nie.

Gelukkig hou die Prediker nie hier op om hieroor te skrywe nie.
Hy sê in vers 4 met ‘n beeld ‘n waar en belangrike ding:
“Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. ‘n Hond wat lewe,
is beter as ‘n leeu wat dood is.” Dit is ‘n geweldige ding wat hy sê
en wat jou hard laat dink! Al gaan dit hoe sleg met jou, is die feit
dat jy nog leef jou hoop! Dan is alles mos nie tevergeefs nie.
Jy leef tog saam met God! Dink mooi daaroor. Al weet jy nou baie
goed dat jou geloof nie ‘n versekeringspolis is teen die swaarkry in
die lewe nie, weet jy ook dat daar hoop te vind is solank jy lewe!

Die Prediker vind hoop in die feit dat jy nog leef!
Dit is die wonderlikste onder die son. Want in die “nog leef” kan
en moet jy juis vir die Here lééf! Ten spyte van wat ookal!
Liewer ‘n lewende hond as ‘n magtige leeu wat kláár dood is!
Liewer ‘n asempie van hoop as ‘n “magtige” persoon in die graf.

God skuld ons niks. Nie eers as sy kinders nie. Maar ons wéét,
God het ons lief. Hy skuld ons niks, maar Hy het juis al óns skuld
reeds aan die kruis betaal!... in sy geliefde Seun Jesus Christus!
God skuld ons nie ‘n gemaklike lewe nie. Vra maar vir Paulus.
Hy skuld ons nie ‘n gelyk paadjie hemel toe nie. Maar Hy is by ons.
Hy is by jou. Persoonlik. Hy is elke tree van die pad saam met ons,
hoe moeilik die pad ookal is. Hoe swaar dit ookal is. Hy bereik sy
Goddelike doel met ons, en deur ons met ander mense.

Hy stap saam met ons teen die spoed van een dag op ‘n slag.
God gee jou vandag se lewe. Jy het vandag nog nét vandag.
Net Hy weet van môre. Gryp vandag aan!
Maak dit vol met vreugde en dankbaarheid in die Here!

Ernest