Dit is die grootste voorreg denkbaar om vandag te kan leef.
Ons sien in Prediker 9 hoe belangrik elke dag se lewe is.
Liewer ‘n lewende hond as ‘n dooie leeu, sê die Prediker daar.
Ons ontvang lewe net een dag op ‘n slag. Dit is daarom tragies
dat baie mense heeltyd leef vir môre en vandag by hulle laat
verbygaan. Elke dag wat nie voluit gelewe is nie, kan nooit ooit
weer ingehaal word nie! God gee ook nooit lewe vooruit nie.
Behalwe ewige lewe in Jesus Christus. Maar aardse lewe kry
ons nie soos vyf jaar vooruit nie. God deel ook nie lewenskrag
vooruit aan ons uit nie. Ons ontvang dit ook dag vir dag.
Die feit dat jy vanoggend jou oë kon oopmaak en vandag lewe,
is net genade! God gun dit aan jou om vandag te leef!
Wat maak ons met vandag?
God wil hê dat jy vandag met vreugde vir Hom moet leef.
Met dankbaarheid. Vandag is al wat jy het! Jy weet nie of jy
môre gaan sien nie. Hoe goed jy ookal aan môre beplan,
jy weet nie wat dit inhou nie, of jy lewenslig gaan sien nie.
Maar jy weet verseker: God het vandag aan jou gegee! Net dit.
Jy kry lewe by God, een dag op ‘n slag.
Die kuns van die lewe is om die beste van elke dag te maak.
Maak nie saak of dit in werk is, of dit in ontspanning of rus is nie.
Die belangrike is: Leef vandag voluit! Vul jou dag met God se
vreugde en dankbaarheid vir wat Hy jou gee. Van elke asemteug,
tot die grootste verrassing. Vind vandag vreugde in die klein en
groot dinge van die lewe. As jy dit nie vandag doen nie, gaan jy
dit ook nie môre of die dae daarna doen nie. So mis jy die lewe!
Wat gaan môre anders wees, wat jy nie vandag al het nie?
Waarvoor wag jy al hoe lank? Hoekom kyk jy altyd na môre vir
vreugde en geluk? Hoekom voel jy vreugde ontduik jou vandag,
maar jy sal dit môre kry? Jou lewe gaan dag vir dag by jou verby
as jy so leef...
Gister is opgeleef. Vergeet dit waaroor jy bly tob van gister.
Dit steel jou vreugde. Dit help jou ook net so min om te bly
vorentoe kyk en vandag by jou te laat verbygaan. Leef vandag!
Maak vandag jou dag in God se koninkryk. Jou bonusdag!
Kies vandag die lewe. Om God se wil te doen. Om saam met
Hom te leef, vandag!
Ernest