Jy het die keuse wat jy met die lewe, met jóú lewe, gaan maak.
Ons moenie dink omdat ons Christene is sal alles net goed gaan nie.
Die lewe is nie regverdig nie. Dit het die Prediker al in Prediker 9:11-12
gesê: “Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes
wat die resies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie
dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie,
nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur
tyd en geleentheid. Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie...”
Die lewe is nie regverdig nie. Daar is geen geregtigheid in die lewe nie.
Dit is die Prediker se bevinding nadat hy die lewe van hoek tot kant
deurgekyk het. Hierdie student van die lewe het bevind dat harde
werk nie altyd voorspoed waarborg nie. Net so min as wat oefening
noodwendig oorwinning verseker. Die lewe is eenvoudig hard en taai.
Hierdie besef kan een van twee gevolge vir jouself hê: óf dit kan jou
op moedverloor se vlakte laat sit, óf dit kan jou laat besef jy moet die
lewe wat jy vandag het, voluit lewe en dit die moeite werd maak.
Jy het die keuse of die lewe jou gaan onderkry, of nie. Jy, net jy,
het die keuse wat jy met jou lewe gaan maak, of nie.
Die belangrike hierby is dat jy net vandag het om daardie keuse te maak.
Jy het net vandag om die regte keuse te maak. Net vandag! Môre is nie
in jou hande nie, en jy kan nie seker wees of jy môre hier sal wees in
hierdie lewe nie. Gister is klaar opgeleef en verby. Kies vandag die lewe!
Kies vandag God en sy vreugde. Laat toe dat die Heilige Gees jou vandag
nuut maak. Praat, dink en doen vandag dit wat God verheerlik en jou
medemens opbou. Kyk van vandag af, van nou af, anders na die lewe.
Dan kan die skerpste kante van die lewe jou nie van die ware lewe
ontneem nie!
Ernest