Ons kan kies of ons slagoffers van die onregverdige lewe wil wees, of nie.
Die Prediker het reeds vir ons geleer dat die lewe nie regverdig is nie.
Maar hy het ook vir ons geleer dat ons nie slagoffers van die lewe is nie!
In Prediker 12:12 sê hy: “Die belangrikste van alles is:
My seun, wees versigtig!...”
In vers 13 sê hy dan: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit:
Dien God en gehoorsaam sy gebooie.
Dit is wat van die mens gevra word.”

Weens die rede dat die lewe nie regverdig is nie, is party mense nou so
versigtig dat hulle niks waag nie, en die lewe by hulle verbygaan. Dit is
‘n somber lewensuitkyk. Dit is nie wat die Prediker bedoel met “wees
versigtig” nie. Natuurlik is dit goed om versigtig te leef, om te onderskei
tussen goed en kwaad. Die Prediker moedig ons aan om ons kop te gebruik.
Ons moenie soos dwase instorm op plekke waar engele dit nie eers waag nie.
Ons moet ons woorde tel, ons oë beheer, ons gedagtes sif. Maar dit beteken
nie ons moet verander in vervelige vaal mense nie. Dit is alles behalwe wat
en wie kinders van die Here is. Ons moet die lewe lééf! Die golf ry!

Dit beteken dat kinders van die Here nié net reaktief leef nie. Ons gaan nie
deurentyd net reageer op wat met ons gebeur nie. Ons is nie slagoffers van
wat die lewe na ons kant toe gooi nie. Nee! Ons gaan kies om proaktief te
leef! Ons leef as nuwe mense in Christus, en ons gaan van ons kant af die
lewe só dikteer, ongeag wat die lewe na ons kant toe gooi.

Baie gelowiges leef reaktief, ongelukkig. Hulle leef soos slagoffers wat
heeltyd net reageer op wat die lewe na hulle kant toe gee. Hulle gesigte
is lank en die vlammetjie van hoop brand klein. Die lewe is hulle baas.
Dit hanteer hulle, in plaas daarvan dat hulle die lewe lééf! Ons moet kies
om die lewe te lééf! Ons is nié slagoffers van die lewe nie! Die keuse om
te lééf, om die lewe vir die Here te lééf, maak ons vry! Ons kan in die
moeilikste denkbare omstandighede steeds kies om vry te wees!
Ons vryheid lê in Christus! Ons kan kies om nie te haat nie, om nie te
vergeld nie, om anders te wees as die wêreld, om innerlike vrede en
vreugde te hê, en vry te wees.

Kies vandag die lewe! Kies om dit proaktief te leef! Nie reaktief nie.
Kies dat God se Gees die ware lewe deur jou laat stroom. Moenie dat
die lewe jou rondskop nie. Jy is nie ‘n slagoffer van die lewe nie!
Kies om die lewe te lééf, vir die Here, en saam met die Here!

Ernest