Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy
sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo,
nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Liefde se oorsprong is in God. God is liefde.
Hoekom moet ons mekaar liefhê? Hoekom moet ons
omgee vir mense met wie ons nie eers oor die weg kom nie?
Hoekom moet ons dit selfs vir ons vyande doen? Hoekom
verwag God sulke moeilike dinge van ons?
Omdat God liefde is! God het alle mense lief! Hy wil hê dat
alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
God het selfs sy vyande lief! Hoekom? Omdat dit God se aard is!
Dit is Wie God is! God is liefde! Sy wese is om nie te straf nie.
Hy wil nie mense “terugkry” vir wat hulle oor Hom sê of vir wat
hulle doen nie. Sy liefde is nie ‘n emosie alleen, of net gevoel nie.
God doen liefde! God wys sy liefde in sy dade. Toe die eerste
mense sy genade verwerp het, het God hulle dadelik ‘n tweede
kans gegee. Toe Israel keer op keer hulle rug op God gedraai het,
het God hulle nie afgeskryf nie. Hy het elke keer sy profete na
hulle gestuur om hulle terug te kry op sy pad. Die pad van lewe.
Uiteindelik het God sy hart die heel duidelikste gewys in Jesus
Christus aan die kruis. Jesus is die toppunt bewys van God se
liefde vir ons. In Jesus se lewe en sterwe sien ons God se liefde
die duidelikste. Daar het God eens en vir altyd kant gekies vir ons,
vir sondaars, vir sy vyande. God het kom wys dat liefde nie net
leë woorde is nie, maar dade! God se liefde is groot dade!
God se liefde laat die hemel skeur. Hy skryf sy liefde met Jesus
se bloed. Sy liefde word gesien. Gesmaak. Ervaar. Sy liefde gee
ewige sin aan die lewe. Sy liefde gee hoop, lig, krag!
God se liefde doen die wonderwerk dat selfs óns uiteindelik
ook kan liefhê!
Ernest