Daar is niks wat jy regtig nodig het wat God nie gee nie. God gee egter nie
alles wat óns wil hê nie. Ons wil baie dinge hê wat ons dink ons nodig het.
God weet die beste. Hy gee wat Hy weet ons nodig het. En juis in dit
oorstroom Hy ons met sy goedheid en liefde. Ons ontvang meer as genoeg
van alles! Ons moet baie dieper hieroor nadink as óns aardse behoeftes en
begeertes. Dit raak God! Dit gaan oor God!
Kyk net hoe gee God in oorvloed, meer as genoeg! In die eerste plek neem
Hy al jou sonde weg! Hy gee vergifnis! Hy dink nooit ooit weer aan jou sonde
wat Hy vergewe het nie! Jesus het die volle prys daarvoor betaal. Jy kan niks
hierby voeg om jouself te red of “beter af te wees” nie!
Verder gee God sy liefde vir jou. Hy hou niks daarvan terug nie. Hy verander
jou in ‘n totaal nuwe mens wanneer jy in Christus begin glo! Niks in jou lewe
is meer dieselfde nie. Jy is ‘n nuwe mens! ‘n Nuwe kop, en hart, en ‘n nuwe
gesindheid, en nuwe dade wat vloei uit jou nuwe lewe! Is daar regtig enige
iets méér wat jy wil hê as om ‘n nuwe mens te wees, met die ware nuwe
lewe as ewige erfenis?!
God bring ook sy Goddelike liefde na jou! Let op, Goddelike liefde met ‘n
hoofletter. Sy liefde vir jou is Goddelik volmaak. Daar is geen beter liefde nie!
Daar is geen méér liefde as God se liefde vir jou nie. Sy liefde vir jou is
allesomvattend en alles insluitend.
Nou vra God van jou om, op grond van álles wat Hy vir jou gee, soos Jesus
te begin leef. Hy gee eers alles voordat Hy iets vra. God vra niks van jou wat
Hy nie éérs vir jou moontlik maak om te doen nie! In Matteus 5:21-48 vra
Jesus van jou baie meer as wat die wêreld van mekaar vra. Hy vra baie meer
as wat mense vir mense gee uit ‘n wêreldse oogpunt.
Die wêreld sê byvoorbeeld “jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy
haat” – Matt. 25:43. Maar God sê in en deur Christus: “Julle moet julle vyande
liefhê en julle moet bid vir hulle wat julle vervolg...” – vers 44. God vra baie
meer van ons as wat die wêreld vra. Hoekom? Omdat dit oor Hom gaan,
en nie oor die wêreld nie, en omdat Hy alles vir ons gee om sý wil met die
wêreld te kan doen! Ons kán en móét byvoorbeeld selfs ons vyande liefhê!
Hy vra nóg méér! Kyk wat vra Jesus in vers 48: “Wees julle dan volmaak soos
julle hemelse Vader volmaak is.” Ja, jy het reg gelees. God vra alles omdat Hy
eerste alles gegee het. God vra nie minder toewyding as alle toewyding nie!
God vra alles, wat Hy reeds gegee het! Kan ons volmaak wees soos ons hemelse
Vader volmaak is? Dit is eers in die lig van God se liefde, spesifiek sy liefde vir
vyande, dat hierdie opdrag sin maak. Ons moet God se liefde aan ons vyande
wys in ons optrede teenoor hulle. Volmaak is nie hier perfeksionisties nie.
Iemand wat met ‘n onverdeelde hart op die totale wet van God gekonsentreer
het, is “volmaak” genoem. Jesus vra hiermee alles van ons vir alles van God!
Dit is nie of jy volmaaktheid bereik het nie, maar of jy daarheen op pad is!
Dit is die belangrike. Wees op pad na “volmaaktheid” vir God!
Matteus wil sê die maatstaf is God Self! Dit vra totáál álle oorgawe van jou!
God gee alles! God vra alles!
Ernest