Ons sien dikwels op houers die woorde: “Hanteer versigtig”.
Dit beteken dat die inhoud breekbaar of beskadigbaar is as
die houer nie versigtig hanteer word nie. Dit geld figuurlik
gesproke ook vir mense. Mense is “breekbaar”. Mense moet
versigtig hanteer word. Mense kan baie seer kry.

Romeine 12:9-21 beskryf vanuit hierdie hoek hoe God se liefde
Lyk en werk. Dit klink in sekere opsigte na ‘n samevatting van
die Bergrede van Jesus in Matteus 5-7. Die Boodskap vertaal
Romeine 12:9-10 so: “Moenie net maak asof julle mekaar
liefhet nie. Nee, wees regtig lief vir mekaar. Haat alles wat sleg is.
Doen net waarvan God hou. Julle moet mekaar soos broers en
susters liefhê. Besef dat die Heilige Gees in almal van julle woon;
dan sal julle mekaar met groot respek behandel.”

Paulus maak dit duidelik hoekom ons mekaar só moet behandel.
Omdat die Heilige Gees in ons woon! Ons is tempels van die Heilige
Gees. Nie een van ons wat in Jesus Christus glo behoort aan onsself
nie. Ons is God se eiendom! Daarom moet ons onsself oppas, en
ook ander oppas. Daarom moet ons ander mense met die nodige
eerbied behandel, want, God woon ook in hulle!

Begeer jy groter liefde in jou lewe teenoor ander mense?
Stel dan net jou geloofs-oog baie fyn in en sien God wat in hulle
woon! Hanteer elke mens as iemand in wie God woon deur die
Gees! Op elke mens staan geskryf: “Hanteer versigtig” –
eiendom van God.

Moenie mense rondstamp en op hulle trap nie. Moenie mense
verkleineer met woorde en dade nie. Matteus 25 vers 40 sê:
“...Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die
geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit
aan My gedoen.” Hanteer mense met deernis. Vergewe mense
soos die Here ons vergewe. Buk langs mense wat struikel en tel
hulle op deur die krag van die Gees in jou. Verbind mense wat
seerkry. Wees God se salf waardeur Hy wonde genees.
Deel die lewende water van die Here uit. Aan almal!

Ernest