Die Boodskap vertaal Romeine 12:13: “ Help ander mense wat swaarkry.
Wees altyd gasvry. Stel julle huis tot beskikking van gelowiges wat nie ‘n
plek het om tuis te gaan nie.”
Gasvryheid word dikwels in die Bybel in verband gebring met naasteliefde.
In die Bybelse tyd was daar nie “gastehuise” of “hotelle” nie. Die naaste
wat jy daaraan kon kom was herberge. Dink maar aan die geboorte van Jesus,
waar daar nie plek in herberge beskikbaar was nie as gevolg van die volkstelling.
Herberge was maar berugte plekke, nie “gasvrye” plekke nie. Daarom was die
meeste reisigers afhanklik van gasvryheid van die inwoners van dorpe.
As jy nie iemand geken het in ‘n dorp waarheen jy op pad was nie, het jy
probleme gehad.
Paulus moedig nou gelowiges aan om ander gelowiges gasvry te behandel.
Verskaf met oop harte slaapplek en kos aan hulle. Selfs al ken hulle mekaar
nie persoonlik nie, moet hulle gemeenskaplike geloof in Jesus Christus hulle
saambind as broers en susters in die Here. Dit word sigbaar in die gasvryheid
waarmee hulle ontvang word.
Gasvryheid beteken ‘n oop hand en ‘n oop hart vir ander. Dit beteken in
Praktyk, vandag nog, dat ons nie anderpad kan kyk as gelowiges swaarkry
en van ons afhanklik is vir lewensmiddele nie. Ons moet help waar ons kan.
Wees ‘n vriend vir eensames en noodlydendes. Reik uit na mense rondom jou.
Help mense wat swaarkry, al is dit net met ‘n brood, of met vriendelikheid,
as jy nie het om te gee nie. Doen net iets! Al is dit hoe gering.
Dit bou aan menswaardigheid en geloof. Selfs die heel kleinste gebaar is groot
as dit in liefde geskied. Weereens: Doen liewer iets baie klein, wat jy kan,
as wat jy niks doen nie.
Dit is liefde in aksie. God sal groot doen daarmee! Liefde is uiteindelik dade.
Sonder dade is dit wind, is dit niks... as sê ons wat ookal...
Ernest