Romeine 12:15: “Wees bly saam met dié wat bly is en
treur saam met dié wat treur.”
Wat God in ons hart uitstort, verander ons in mense wat
voluit leef! Dit sluit in feesvier... en treur. Die Boodskap
vertaal bogenoemde vers so: “Lag en vier fees saam met
elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is.”
Partykeer beleef ons dat die son oor ons skyn, en ander
kere beleef ons dat donker wolke om ons saampak.
Die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie.
Die lewe het sy lekker en sy swaar.
Die belangrike is dat God aan ons genoeg gee, van alles
wat ons nodig het, om die lewe te vat soos dit kom.
Hy gee sy liefde en genade onbeperk! Daarmee kan jy die
lewe een dag op ‘n slag tot sy eer leef! God gee meer as
genoeg, sodat jy genoeg geestelike energie oorhet!...,
om baie vir ander mense te kan beteken. Selfs al is die
lewe hoe hard, jy het nog altyd genoeg oor om met ander
mense te deel. Jy kry nooit só swaar dat jy al God se liefde
en genade opgebruik en nie iets oorhet om met ander te
deel nie. God gee altyd méér as wat jy kan “opgebruik”.
Hy gee onbeperk liefde, en krag, genade, en sy goedheid,
en ontferming. Daarom moet jy dit met ander deel en lag
en feesvier saam met die wat bly is, en huil saam met die
wat hartseer is.
Ons kan nie opgebruik wat God ons skenk nie. Daarom vra
Hy van ons om dit met ander te deel. Deel God se vreugde
met almal wat gelukkig is, en maak so hulle blydskap net
nog groter! Oorlaai hulle met nog meer van wat God gee.
Ander mense kry swaar. Help hulle laste dra. Treur saam
met hulle in opregtheid. Huil saam met elkeen wat hartseer
is in opregte omgee. Deel hulle pyn. Help hulle dra.
Gee God se troos aan na hulle toe.
Dit is wat God vra.
Ernest