Romeine 12:10: “Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie.”
– Die Boodskap. Paulus het dit eerstehands beleef hoe mense twis
en baklei... in die gemeentes! Hy het goed geweet waarvan hy praat.
Die duiwel neem nie verlief met harmonie nie. Hy stook onder ons,
twis en bakleiery. Soms kan jy nie glo waaroor en waarvoor mense
twis en baklei nie. Skinder en kwaadpratery word ook maklik deel
daarvan.
Dit is natuurlik en normaal om nie oor alles saam te stem nie.
Ons kan en mag van mekaar verskil in menings en sake. Ons is
mense wat verskillend kan dink oor iets, al is ons nuutgemaak
in Christus. Ons het partykeer selfs uiteenlopende menings oor
hoe ons iets ten beste tot eer van God kan doen! Maar dit is iets
heeltemal anders as voortdurende konflik as gevolg van selfsug
of eie eer.
God se liefde is hier broodnodig. Hoe sorteer God se liefde
konflik uit? Die ontvangers van God se liefde wil nie meer ten
alle koste argumente wen nie. Jy wil nie die hele tyd net “reg”
wees nie. Jy kan, met God se liefde, die minste wees wanneer
verskillende standpunte almal die potensiaal het om “reg” te
wees. Liefde maak dat vrede vir jou belangriker is as dat jy altyd
die beste weet. Die mens is dan belangriker as die saak, om net
elke keer te wen. Dit beteken nié om terug te staan in
ongeregtigheid nie. Dit gaan oor verskillende voorstelle of
moontlikhede wat almal goed kan wees. In konflik beteken
dit nie die een wat oor die ander loop “wen” nie.
Doen moeite om harmonie te bring tussen mense.
Maak ruimte vir mense rondom jou. Wees ‘n vredemaker,
eerder as ‘n brandstigter. Blus die konflik-vure met jou sagte
woorde en jou deernisvolle dade.
Wees ‘n gesant van God se vrede. Leef in harmonie.
Moenie baklei nie.
Ernest