Die Boodskap vertaal Romeine 12:16: “Moenie beter as ander
mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te
veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die
kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig.”

Elke keer wanneer van God se liefde gepraat word, wat ons
teenoor mekaar moet uitleef, dan is dit asof nederigheid-in-aksie
inskop. Nederigheid is nie ‘n toestand nie. Dit is ‘n aksie, wat deur
die Gees meegebring word, as deel van die vrug van die Gees in
jou lewe. Die vrug van die Gees word gelééf, deur die krag van
die Gees. Jy leef nederig. Jy kan en wil nie anders as jy onder
leiding van die Gees dink en doen nie.

Nederigheid is om jouself nooit teen ander mense te meet nie.
Dit is beslis ook nie om jouself bo ander mense te stel nie. In ons
wêreld meet mense mekaar voortdurend, en hulle vergelyk
hulleself met ander. Wanneer mense dink dat hulle beter is as
ander, praat hulle dikwels met hulle vlymskerp woorde ander
mense aan flarde. Agter hulle rug, of selfs in hulle geselskap.

Kinders van die Here het God se liefde in hulle lewe, en sy liefde
dring hulle! Ook in woorde en dade. God se liefde, en die uitleef
daarvan, maak jou nederig.

Jy kompeteer nie meer met ander mense nie. Jy is nie meer
selfsugtig nie. Jou norm is eenvoudig om onder alle omstandighede
te doen wat God van jou verwag, en mense met sy liefde te dien.
Wat jy ookal doen, doen jy vir God! Daarom kan jy nie anders as
om nederig te wees nie, want jy leef in die eerste plek voor Hom!
Nederigheid is om deurlopend in jou lewe God se wil te soek,
en dit te doen!

Ernest