Ons het gesien Die Boodskap sê in Romeine 12:16:
“Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself
dink nie...wees nederig.” Ons het ook gesien dat nederigheid
jou nie voortdurend met ander mense meet nie, maar dat jy
jouself net aan God se standaarde meet. Net dit!
Wat beteken dit as Paulus sê “...maak vriende met mense
wat nie te veel van hulleself dink nie... wees nederig.” ?
Dit beteken dat ons vriende moet maak met mense wat óók
nederig is! Ons moet sulke mense deel van ons vriendekring
maak, en self nederig wees in ons vriendekring.

Die Afrikaanse spreekwoord sê: “Soort soek soort.”
Dit is wat Paulus bedoel. Ons vriende moenie verwaande
mense wees wat net heeltyd met mekaar kompeteer nie.
Dan gaan die vriendekring in elk geval nie lank hou nie.
Dit gaan verder om meer as net dit: Dit gaan daarom dat
ons vriende, net soos ons, voor die Here sal buig en sy eer
sal soek. Ons is saam as vriende bly oor God se goedheid
en ons deel sy liefde met mekaar.

Verkeerde vriendskappe laat mense struikel.
Baie ouerharte is vol pyn oor kinders wat verkeerde vriende
het. Hulle is daardeur meegesleur in negatiewe gedrag.
Vriende is noodsaaklik. Daarom maak goeie vriende die lewe
vol vreugde. Die wysheidsleraar het juis in die Ou Testament
gesê ‘n goeie vriend is nader aan jou as ‘n broer. As dit die
geval is, moet ons versigtig wees wanneer ons vriende kies.
Hulle moet ons kan help om God se liefde nog beter te ervaar
en ons moet saam met hulle God kan eer in ons vriendskap.

God se soort mense maak vir jou die lewe die moeite werd.
Jy beleef in hulle kring die teenwoordigheid van God!
Wat ‘n voorreg en vreugde!

Ernest