Vrede is nie ‘n passiewe begrip nie. In die Woord van
God is vrede ‘n daad. Daarom sê Jesus is Matteus 5:9:
“Geseënd is die vredemakers...” Vrede word “gemaak”.
Die Boodskap vertaal Romeine 12:18: “Doen julle bes
om in vrede met alle mense te lewe.” Ons weet vrede
is ‘n skaars item in die tyd waarin ons lewe. Nie net op
die wêreld-verhoog nie, maar ook in interpersoonlike
verhoudings. Ons handhaaf eerder onsself, as om vrede
na te streef, om regtig vrede-makers te wees, wat aktief
vrede maak! Mense wat God se liefde deur en deur ken,
moet mense van vrede wees.
Liefde en vrede loop hand aan hand. Jesus se vrede heers
in elkeen wat Hom ken en vir Hom leef. Mense van vrede
is ook nie meer bang vir die dood nie, of vir God se oordeel
nie, want hulle het die vrede in hulle lewe wat alle verstand
te bowe gaan. Wanneer Jesus se vrede heers oor alle dinge
in jou lewe, bo alle ander magte in jou lewe, kán jy sy vrede
uitdeel! Dan is jy inderdaad ‘n vrede-maker. God vra van jou
om die vrede wat Hy jou in oorvloed gee, ook weg te gee aan
ander mense met wie jy te doen kry. Laat God se vrede deur
jou vloei na ander mense rondom jou.
Maak vrede! Aktief. Oral. Romeine 12:18 sê: “As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” Let op:
alle mense! Jy maak ook nie net vrede waar daar onvrede is nie.
Meer as dit: Jy lééf vrede! Jy pak nie net “wapens” weg nie.
Jy lééf aktief vrede. Jy leef voorkomend vréde! Jy doen jou bes
vir vrede.
Vrede is nie ontkennend nie. Natuurlik kan jy nie help as ander
mense nie van jou hou nie. Maar, van jou kant af doen jy alles
moontlik om in vrede met hulle te lewe. Jy bewaar vrede.
Jy gaan maak on-vrede reg as dit bestaan. Jy keer dat verhoudings
versuur. Jy gee die eerste tree om te versoen. Jy “handhaaf” nie
jouself ter wille van jouself nie. Jy máák vrede ter wille van die Here!
Jy hét reeds die toerusting daarvoor: God se vrede, in jóú!
Ernest