Daar gebeur slegte dinge met ons in hierdie lewe.
Dink maar aan motorkapings. Rooftogte. Huisbrake,
selfs terwyl die bewoners in die huis is. Ons kan aanhou opnoem...
Miskien ken jy so iemand met wie dit gebeur het. Dalk het dit al met
jou gebeur. Om met iemand te gesels wat ‘n geliefde aan ‘n wrede
dood tydens ‘n motorkaping of rooftog afgestaan het, is baie moeilik.
Jy het eintlik nie ‘n idee wat hulle beleef as jy nie daardeur is nie.
Jy verstaan maar net iets van dit wat in hulle gedagtes draai. Dit is
dan ook moeilik om maar net te sê “ek verstaan”. Jy verstaan maar
iets van die gedagtes waarmee mense dan opgeskeep sit en worstel,
waarvoor hulle gladnie gevra het nie. Wraakgedagtes. Die oortuiging
dat hulle die woestaards en misdadigers nooit sal vergewe nie.
Wat is die oplossing?
Paulus gee die antwoord in Romeine 12:19: “Moenie self wraak neem
nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan
immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld”, sê die Here.
Die Boodskap help ons ook met die vertaling van die vers: “Laat staan al
julle wraakgedagtes, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by
gelowiges nie. Los dit vir God. Daar staan immers in die Bybel: “Ek
alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem”, sê die Here.”
Wraak kom ons nie toe nie. Hoe graag ons ookal mense wil terugkry vir
die verskriklike dinge wat hulle gedoen het. Dit is verstaanbaar. Maar is
dit reg in die oë van God? Nee. Om te haat is menslik. Maar dit is nie
Goddelik nie. Daarom pas haat ook nie in by mense wat in die eerste
plek God se wil, wil doen nie. Hoe bitter dit ookal is, mag haat nie deel
van ‘n kind van God se lewe word nie. Haat staan lynreg teenoor alles
wat God is en doen. Hy het ook haat aan die kruis verslaan, ter wille
van ons. Haat maak uiteindelik ook jóú “dood’. Dit vreet soos ‘n kanker
aan jou. God is liefde en God se kinders moet leef soos God wil dat
hulle moet wees. Hulle moet vergewe. Ons word ook deur Jesus geleer:
“..vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons
oortree;...”
Maar wat dan van mense wat mý so gruwelik verontreg het? Kom hulle
maar net weg daarmee? Nee. God slaap nie. Hy sien wat hulle doen.
Hy ken al die feite en detail waarvan ons nie eers bewus is nie. Hy staan
nie parool toe nie. Mense kom ook nie op tegniese punte voor Hom weg
nie. God sal op die laaste dag met almal afreken wat nie met ware berou
opreg bely het, en vergifnis van Hom ontvang het nie. God kan nie gebluf
word nie. God sal geregtigheid laat geskied. Maar my “wraak” lê selfs ook
nie eers daarin nie. Dan kom ek steeds nie vry van die ongeregtigheid nie.
Los daarom alle wraak vir God. Leef om te vergewe, ... en lééf, vir Hom!
Ernest