Hoe kry ‘n mens dit reg om Romeine 12:20 uit te leef? –
“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is,
gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom
vuurrooi van skaamte.” Liefde kry die onmoontlike reg.
God werk deur jou met sy liefde. Dit maak dat jy mense
wat jy eens op ‘n tyd gehaat het, nou kan vergeef!
Handelinge 7 is die merkwaardige gebeure met Stefanus.
Toe hy ‘n volgeling van Jesus geword het, het hy seker nooit
gedink watter ontberings dit vir hom sal inhou nie. Hy het dit
gewaag om mense in Jerusalem se uitgediende godsdiens aan
te vat. Hy het met sy lewe daarvoor betaal. Omdat Stefanus die
tempel nie meer as God se woonplek beskou het nie, is hy met
klippe doodgegooi – Handelinge 7:47-50.
Maar, wat het Stefanus in sy sterwens-oomblikke gedoen?
Het hy sy tereg-stellers gehaat, of verwyt, dat hulle sy lewe neem?
Nee. Stefanus sterf met ‘n gebed om vergifnis vir al sy vyande!
Handelinge 7:60: “Toe het hy op sy knieë neergesak en hard
uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”
Met hierdie woorde het hy gesterwe.”
Hoe het Stefanus dit reggekry? Dit is uiteindelik nie hý nie.
Dit is uiteindelik ook nie óns wat so iets regkry nie. Dit is die Here,
in ons, die Here deur ons. Let op wat roep Stefanus uit, net voor hy
vir hulle bid en sterf, onder die klippe wat op hom reën: “Here Jesus,
ontvang my gees!” – vers 59. Wanneer die Here deur sý Gees in jou
woon, beheer sy Gees jou gees. Dit laat jou bid: “Here, moet hulle
tog nie hierdie sonde toereken nie.” Dit laat jou ook doen wat in
bogenoemde Romeine 12:20 staan.
God se liefde kan jou verander om selfs vir hulle om te gee met
wie jy gladnie oor die weg kom nie, ja, selfs jou vyande. God dóén
die liefde, deur jou, in wie die Gees woon en werk! Jy gaan dit nie
uit jouself regkry nie. Maar vertrou God wat deur jou werk.
Leef om sy wil te doen, elke oomblik. Loop in die voetspore
van Jesus. Jy sal verstom staan oor die dinge wat die Here doen,
deur jou doen!
Ernest