Ons gevoelens, ons emosies speel ‘n baie belangrike rol in ons lewe.
Ongelukkig kan dit ook een van die grootste struikelblokke wees in
ons gehoorsaamheid aan God se wil. Dit kan dié grootste struikelblok
wees in ons lewe om te keer dat ons vir ander mense omgee, en gee.

Ons volg dikwels eerder ons emosies, ons gevoel, as om gehoorsaam
te wees aan God se wil. Ons voel ons hou nie van iemand nie, en besluit
dan ons kan nie eintlik vir die persoon lief wees nie. Ons dink ons moet
wag tot ons gevoelens verander, dan sal ons begin lief raak vir dié mens.

Dit werk nie so nie, nie volgens die Woord van God nie. As ons vir ons
gevoelens wag, gaan ons nie God se wil doen nie. Dit is wat heelwat
gelowiges terughou in hulle gehoorsaamheid aan God. Ons bid vir meer
liefde teenoor ons medemens, maar ons doén niks meer as dit nie.
Ons wag tot ons “anders voel”.

Die Bybel se nie jy moet eers wag totdat jou vyande verander
in mense waarvan jy hou, voor jy vir hulle lief moet wees nie!
Die Bybel sê eenvoudig jy moet lief wees vir jou vyande!
Wie is jou vyande? Dit is juis daardie mense van wie jy niks hou nie!
Dit is hulle oor wie jy negatiewe gevoelens het. Vir húlle moet jy lief
wees! Jy kan nie sit en wag totdat negatiewe gevoelens verdwyn nie.

Jy moet jou negatiewe gevoelens uit die pad uit lééf!
Jy moet eenvoudig die regte dinge, die wil van God, teenoor jou
vyande begin dóén, of jý daarvan hou of nie. Jy doen dit!... ten spyte
van jou negatiewe gevoelens of emosies teenoor hulle. Lees weer
Romeine 12:20: “As jou vyand honger is moet jy sorg dat hy iets te
ete kry...” – Die Boodskap. Jy doen die regte ding. Dit wat God se wil is.
Nie dit wat jy voel nie. Jy doen dit ten spyte daarvan dat jy nie met die
persoon oor die weg kom nie.

Hoekom? Omdat God so sê. Punt. Kyk wat waarborg Paulus ook in
dieselfde vers: “... As jy dit doen sal jy hom sommer baie skaam maak.”
Kort voor lank sal jou gevoelens verander as gevolg van jou
gehoorsaamheid aan God. En jou vyand se gevoelens ook...

Ernest