Romeine 12 sluit af met aangrypende woorde in vers 21:
“Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die botoon voer nie.
Oorwin die Bose deur te doen wat God van jou vra.” – Die Boodskap.
Die Nuwe Vertaling: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Daar is voortdurend stryd tussen goed en kwaad. Die Bose is reeds
aan die kruis oorwin, maar loop rond soos ‘n brullende leeu wat soek
om te verskeur. Daar is egter net een wenner: God! ...
die liefde van God, want God is liefde. Die goedheid van God wen!
Die oorwinningsteken is die kruis! Daar is alle magte van die donker
en die dood eens en vir altyd oorwin. Jesus is die sigbare triomf van
God oor die magte van die duisternis.
In ons lewe is daar ook ‘n voortdurende stryd tussen wat sleg is en
God se goedheid. Die enigste manier hoe ons God se krag in ons lewe
die botoon laat voer is deur gehoorsaamheid aan Hom, deur
gehoorsaam te leef onder die leiding van die Heilige Gees.
In Galasiërs 5 beskryf Paulus dat nie een van ons maar net kan leef
soos ons wil nie. Daar is ‘n stryd aan die gang tussen die Gees en die
sonde. Ons moet kies aan wie se kant ons staan. Wanneer ons kies
vir die Gees leef ons onder leiding van die Gees.
God stort sy liefde in ons lewe uit. Maar dit hef nie ons eie
verantwoordelikheid op nie. Ons moet gehoorsaam leef aan die Gees!
Ons draai voortdurend ons rug op wat sleg is en leef gehoorsaam aan
die Gees. God se liefde triomfeer op elke plek waar sy koninkryk gestalte
kry! Liefde gaan uiteindelik oor alles en almal triomfeer. Openb. 21:1-8.
Ons is op pad na die nuwe wêreld toe waar die liefde reeds gewen het!
Waag dit nou reeds met God se liefde in jou hele lewe,
en beleef nou reeds ‘n stukkie hemel op aarde!
Ernest