Die woord “liefde” is seker die bekendste woord van alle woorde,
ook in alle verskillende tale. 1 Korintiërs 13 is al beskryf as ‘n
“monument” vir die liefde in die Bybel. Dit is ‘n tydlose teks. Baie mooi.
Maar dit is ‘n teks wat so min uitgeleef word in die wêreld, ten spyte van
die behoefte by mense, juis aan liefde! Liefde word so min nagevolg en
gedoen.
In die eerste 3 verse van 1 Kor. 13 vergelyk Paulus liefde met die allerbeste
dinge wat gelowiges vir God kan doen. Van vers 4 af gaan hy dan voort om
God se soort liefde in aksie te beskryf. Dit is hoe dit moet grondvat in ons
lewe. Ons is al so gewoond aan, en bekend met die woorde van 1 Kor. 13,
dat dit goed sal wees om dit op ‘n ander manier en in ander woorde te hoor...
Die Boodskap beskryf dit só in vers 4: “Om ander lief te hê beteken:
om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie;
om altyd mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees
sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel;
om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik
daaroor te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie;
om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie;
om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie.”
Dit is treffend eenvoudig beskryf! Dit is die hart van die Christelike liefde
in ‘n neutedop saamgevat, in hierdie vers 4. Dit is die liefde wat God in
ons hart plant! Dit is die liefde waarvan ons die vrug daarvan moet uitdeel,
so wyd as wat ons leef, aan almal. Hierdie liefde moet ons eenvoudig aan
almal vryelik weggee, uitdeel met vreugde.
Liefde is altyd op ander mense gerig. Dit is hoe Paulus dit beskryf.
Liefde vloei van onsself af weg, na ander toe. Ons gaar nie liefde op nie!
Ons ontvang liefde direk van God af, onvoorwaardelik, en ons gee dit
dadelik weer weg, onvoorwaardelik. Liefde vloei. Liefde is nooit staties nie.
God se liefde is nooit in die besit van iemand nie.
Dit behoort nie aan jou nie!
Liefde beteken om uit te reik na ander toe. Dit laat mense op hulle gemak
voel by jou. Liefde maak jou ‘n toeganklike mens vir ander mense.
Hulle beleef God se teenwoordigheid en sý liefde by jou...
Ernest