1 Korintiërs 13:4: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik,
dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.”
Die liefde is nie hoogmoedig nie!
Liefde neem die aandag van jou af weg. Wanneer jy liefhet met die Here
se soort liefde, skuif jy die kollig weg van jouself af. Mense hou oor die
algemeen daarvan om van geweet te wees. Mense hou daarvan om
belangrik te wees. Mense trek selfs subtiel die aandag na hulleself toe.
Ook met hulle goeie dade spog hulle subtiel. Selfs op geestelike gebied
voel mense soms geestelik minderwaardig omdat ander, volgens húlle,
vertel hoe suksesvol hulle is in gebed, of sendingwerk... of wat ookal.
Om subtiel of openlik hoogmoedig te wees is nie ‘n kenmerk van God
se soort liefde nie.
Wanneer die liefde van God jou lewe oorstroom, gebeur die wonderlike
ding, dat jy nie meer heeltyd oor jouself praat nie. Al wat nou saak maak
vir jou is dat die Here jou diepste motiewe ken, en ook jou “suksesse” en
“mislukkings”. Hy weet alles van jou, en dit is vir jou meer as genoeg.
Hy weet waarom en met watter motiewe jy sekere dinge doen.
Liefde maak jou nederig. God se liefde maak jou eenvoudig nederig!
Nederigheid in nie iets wat jy in jouself het nie.
Nederigheid is ‘n verhoudings-term. Nederigheid word net gesien deur
ander mense wat met jou te doen het. Nie deur jouself nie! Wanneer jy
dink jy is nederig of “sien” dit by jouself, is dit hoogmoed in praktyk.
Nederigheid is die vrug van die Gees. Dit is nie jý nie.
Mens sien nederigheid, wat uit liefde vloei, net in aksie:
Nederigheid is om laag voor God te buig.
Nederigheid is om respek vir ander mense te hê.
Nederigheid is liefde in aksie.
Nederigheid maak ruimte vir ander in jou lewe.
Nederigheid plaas ander mense op die troon, en nie jouself nie.
Jy besef hulle is skepsels van God en Hy woon in hulle,
én, in hulle het jy met God te doen.
Nederigheid is een van die belangrikste uitvloeisels van God se
soort liefde in jou lewe. Jy weet jy staan eerste voor God, altyd,
en dan eers voor mense. Daarom maak nederigheid jou iemand
wat nie omgee om ook voor ander mense te buig,
nadat jy voor God gebuig het nie.
Ernest
LIEFDE IS NEDERIG
- Details