Paulus beskryf liefde as dade, in 1 Korintiërs 13. Liefde word gesien
wanneer dit liefde in aksie is. In vers 5 beskryf Die Boodskap dit so:
“Die liefde is...
om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie
ongemaklik saam met jou voel nie;
om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie;
om nie sommer vir niks kwaad te word nie;
om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou
sodat jy hom of haar kan terugkry nie.”
Die liefde is konkreet. Want God se liefde is in die eerste plek dade!
Dit verander mense se manier van leef. Ander mense begin die hoofrol
in jou lewe kry, en nie net jyself nie. Dink daaraan dat God mense liefhet,
en dat Hy die belangrikste Mens op aarde, Jesus, laat doodgaan het om
mense te laat leef! Ons moet nou ten opsigte van mense rondom ons in
God se voetspore stap. Ons moet mense liefhê,
en goeie dinge vir mense doen.
Waar begin dit?
Daar is so baie mense om ons! Dit klink soos ‘n onbegonne taak...
Die belangrike is dat dit in jou kop begin! Dit begin by jou. In jou kop en
in jou hart. Ons kop ís eintlik ons hart. Jy besluit en kies om nou ‘n
verteenwoordiger van die Here by ander mense te wees. En dit wat jy
dink, dit word jy, en dit is jy. Dink wat God van jou vra ten opsigte van
ander mense.
Dink aan wat Jesus sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele
hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste
en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is:
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” – Matt. 22:37-39.
Die belangrikste van alles waarmee jy jou kop moet volmaak is liefde!
God se liefde verander jou manier van dink. Dit gee vir God die ereplek,
in jou kop. En dit gee ook vir ander mense groot plek in jou kop. Jy vra
nie net heeltyd wat die beste vir jouself is nie. Jy is meer en meer op
ander mense gerig, om hulle te dien met liefde. Liefde is nie net ‘n
mooi begrip nie. Liefde is die dade wat God van jou vra,
in aksie, by mense en aan mense.
Ernest