Liefde maak jou nie blind vir verkeerde dinge nie.
Alles is nie maar altyd “reg”, omdat jy liefde moet uitleef nie.
In 1 Korintiërs 13:6 skryf Paulus: “Dit verbly hom nie oor die
onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.” Die Boodskap
vertaal: “Maar liefde het ook grense: liefde kan nooit kant kies
vir dinge wat verkeerd is nie.” God se liefde maak nie van jou
‘n filantroop wat alles en almal aanvaar nie. Liefde beteken nie
om ander mense ten alle koste gelukkig te hou nie. Liefde maak
ook nie dat jy anderpad kyk waar onreg is nie. God se liefde het
partykeer baie streng optrede tot gevolg. Jy wys ander mense
op hulle foute. Jy help hulle reg.
Liefde kan ook “kwaai” wees. Neem maar vir Paulus. Hy skryf
aangrypend in 1 Korintiërs 13 oor die liefde, maar hy huiwer nie
om vir Petrus in die openbaar aan te vat oor hy skynheilig opgetree
het nie – Galasiërs 2:11-14. God se liefde maak ons nie blind vir
verkeerde dinge nie. Dit laat ons juis daarteen optree. God se liefde
het grense... in terme van onreg. Daarom vertaal Die Boodskap ook
die tweede gedeelte van bogenoemde vers 6 so:
“ Netso sal liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur
soos God dit bedoel het.” Liefde verheug hom oor die waarheid!
God se liefde loop hand aan hand met die waarheid, en daarom ook
met blydskap. Dit “verheug” hom oor die waarheid, sê vers 6. God se
blydskap is teenwoordig waar die waarheid is. Daar waar God se wil
geskied. Liefde is nie blind vir verkeerde dinge nie. Maar liefde fokus
ook nie heeltyd op verkeerde dinge nie. Liefde stel jou oog in op God
se handelinge en nie op sonde en vernietiging nie.
God se liefde soek deurgaans na bakens van lig,
daar waar ons lewe.
Ernest