Die Boodskap vertaal 1 Korintiërs 13:7 so:
“Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het;
liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit
ook van hulle.” Liefde sien nie eerste die kwaad raak nie.
Liefde maak dat jy verby al die uiterlike hardvogtigheid en
bitterheid van ander mense kyk. Liefde ontdek agter al die
maskers juis die mense wat liefde nodig het.
1 Korintiërs 13:7 sê: Die liefde “...dit bedek alles,
glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Vers 8 sê: “Die liefde vergaan nooit nie...” Alle liefde wat jy in
mense belê het, vergaan nooit nie. God se liefde vergaan nooit nie.
God se liefde is al wat vir altyd sal bly staan. Want God is liefde.
Die Boodskap vertaal vers 8: “Liefde ken ook g’n einde nie. Liefde
is nie iets wat ‘n mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie.”

God se liefde is die allergrootste van alles wat Hy vir ons gee.
Daarom is God se liefde ook die duursaamste. Dit hou tot in ewigheid.
In God se nuwe wêreld sal alle ander dinge oorbodig wees. Daar is
geloof nie meer nodig nie. Daar is hoop nie meer nodig nie. Daar is
wonderwerke nie meer nodig nie. Ons sal daar in God se ewige
teenwoordigheid wees, en God is liefde. Daarom sê vers 13:
“En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is die liefde.”

Daarom moet ons nóú al ‘n oop hart en ‘n oop hand vir ander hê.
Ons moet God se mense liefhê. Ons moet vir ander doen wat God
nou al vir ons doen, en wat Hy vir altyd vir ons gaan doen.
In sy liefde doen Hy dit! Hoe meer ons liefhet, hoe meer verstaan
ons Wie die God is by Wie ons die res van die ewigheid gaan
deurbring! Hoe meer wil ons uit sy liefde leef en sy liefde
met ander deel. Gaan leef nou God se liefde!

Ernest