Romeine 12:1-2: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers,
op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan
God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.
Dit is die wesentlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar
laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal
julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom
goed en aanneemlik en volmaak is.”
“... laat God julle verander deur julle denke te vernuwe...”
Ons hoor dikwels in geestelike gesprekke dat jy dit of dat met
jou hart moet doen. Jy word genooi om jou hart vir die Here te
gee, en om ‘n nuwe hart te hê.
Maar wat van jou kop? Sonder ‘n nuwe kop, is ‘n nuwe hart
eintlik onmoontlik. Geloof begin in ‘n mens se kop! Altyd.
Sonde begin ook in jou kop. Jy kan nie jou hart vir die Here gee
en jou kop vir jouself hou nie. Jy fokus met jou kop op God.
Jy is in jou kop gedissiplineerd in jou verhouding met God.
Jy volhard in jou kop. Nuwe gedagtes groei in jou kop,
wat uiteindelik oorloop in nuwe gedagtes, woorde en dade.
Jy is wat jy dink. As jy nie doelbewus jou denke laat verander
deur God nie, word jy ‘n slagoffer van jou omstandighede en
reageer jy deurlopend net op dit wat rondom jou aan die gang is.
Dan is jou denkpatrone meestal net reaktief. Die Here wil jou
proaktief gebruik. Jy moet proaktief optree vir Hom in hierdie
wêreld.
Laat toe dat God jou verander deur jou denke te vernuwe!
Dan sal jy kan onderskei wat vir Hom goed en aanneemlik en
volmaak is. Die Here wil jou help, deur die Gees, om van voor
af reg te leer dink. Laat God jou gedagtes nuut maak!
Ernest