Gryp doelbewus in op die negatiewe denkpatrone in jou kop.
Bid en vra die Here om jou deur die Gees te help, en gehoorsaam
Hom dan. Dit help veel jou godsdiens bestaan net uit ‘n klomp
uiterlike dinge soos om gereeld kerk toe te gaan, mooi gebede
te bid wat jy eintlik nie bedoel nie, en vroom woorde te praat,
maar jou kop is nie nuut nie! Dit is waarom Jesus so kwaad was
vir die Fariseërs. Hulle het die Sabbat gehou, hulle tiendes gegee,
sondaars vermy, ... maar nie hulle kop vir God gegee nie.
Hulle godsdiens was net uiterlike vertoon. Jy moet van binne af
verander, en dit begin in jou kop! Die Gees van die Here moet die
negatiewe denkpatrone deurbreek en jy moet Hom doelbewus
toelaat om dit te doen.
Dit is moontlik! Dit is die wonderlike nuus van Romeine 12:2:
“... laat God julle verander deur julle denke te vernuwe...”
Wanneer jy dit toelaat, verweer die negatiewe neuro-assosiasies
in jou kop wat met negatiewe denke te doen het. Kolossense 3:2:
“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge
wat op die aarde is nie...” Gee jou kop vir Christus.
Hy verander jou! Jou denke bepaal jou gedrag.
Elkeen van ons is ‘n unieke mens met unieke denkpatrone.
Wat jy dink, en ook hóé jy dink, sê wie jy is. Gaan dink doelbewus
na oor wat en waaroor jy deur die dag dink. As jou denke verkeerd
werk en negatiewe dinge dink, krap dit jou hele lewe deurmekaar.
Uiterlik kan ons mooi en vroom lyk, terwyl jy in jou kop byvoorbeeld
materieël gierig is, en ontrou is aan jou lewensmaat.
Uiteindelik begin jy doen wat jy dink.
Maar die een is so erg soos die ander!
Gee vandag weer doelbewus jou kop vir die Here!
Fokus doelbewus in jou kop op Christus se wil vir jou.
Jy weet al so baie daarvan uit die Woord. So vorm nuwe
gedagte patrone in jou kop wat tot eer van God is! Leef dit!
Ernest