Sonde begin klein, en groei tot ‘n enorme onkruid in jou lewe,
wat alles verdring! Dit begin soos ‘n klein saadjie wat in jou
gedagtes gesaai word. Dit is al. Net dit. En nou hang alles van
jou af. Jy los dit... Jy moes nie. Want nou begin dit ontkiem
en groei. Jy kan die saad water gee of jy kan dit gif gee. Jy het
nog steeds die keuse! Kort voor lank is dit ‘n groot plant wat
selfs vir jou “aantreklik” is! Jy snoei en versorg dit. Dit word
‘n reuse boom wat al die suurstof en al die lig uit jou lewe
verdring!

So werk sonde met die mens, want die Bose sit daaragter.
Dit begin as ‘n saadjie wat hy gesaai het, en groei deur jóú
toedoen tot ‘n lewensbedreigende onkruid wat uiteindelik
jou lewe verwoes.

Wat is die oplossing?
Moenie toelaat dat sonde saadjies in jou kop ontkiem nie.
Die Bose gáán dit saai. Moenie dit los nie! As jy agterkom
daar land sulke saad in jou kop, moenie dit alleen probeer
oorwin nie. Gee dit dadelik vir Jesus Christus!
Laat die Heilige Gees daarmee afreken! Die Gees wat in jou
woon en lewe gee! Rig jou gedagtes op Christus! Hy laat jou
oor die sonde triomfeer omdat Hy in jou is en jy in Hom!

Doen dit vandag nog as jy hierdie gif-saad in jou lewe ontdek.
Doen dit vandag nog met die groot onkruid bome in jou lewe
wat besig is om jou suurstof en lig te steel.
Romeine 12:2: “Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk
word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te
vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Ernest