Kry jou kop reg. Slegte dinge begin nie eers wanneer jy dit
begin doen nie. Die wedstryd skop al in jou kop af!
Alles begin daar. Dit is hoekom Jesus in Matteus 5 gesê het
dat ‘n mens nie éérs owerspel pleeg as jy saam met iemand
anders as jou lewensmaat slaap nie. Dit begin al in die manier
hoe jy na ander kyk en wat jy dink.

Geloof is om van jou kop af ondertoe te bekeer...
Ongeoefende gedagtes, wat nie onder beheer van die Gees is nie,
omdat jý dit nie in jou kop toelaat nie, word die broeiplek vir
selfbejammering, haat, twyfel, en sonde. Wanneer jy vrye toegang
aan enige gemors gee om in jou kop te kom klim, is dit nag.
Dit word pikdonker.

Maar, die lig wat Jesus bring oorweldig alle duisternis.
Donkerte kan gelukkig verdryf word. Lig is altyd sterker as
donkerte. Die donker opsigself kan nooit lig uitdoof nie.
Daarom is daar altyd hoop! In Johannes 8:12 sê Jesus:
“...Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg sal nooit in die
duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Jesus se lig begin in jou kop. Hy verhelder jou gedagtes
sodat jy sonde raaksien.

Die oplossing vir verkeerde, sondige gedagtes in jou kop,
is nie deur dit te onderdruk of te ontken nie. Nee.
Jy gee dit dadelik, met ware berou en opregte geloof,
en van die begin af, vir die Here! Fokus dan op Hom!
Sien dan in jou kop hoe Jesus daaroor triomfeer!
Sien sy almag en oorwinning raak.
Niks kan oor jou pad kom wat jy nie, in Hom,
kan weerstaan nie.
Leef in sý oorwinning oor die sonde!

Ernest