Baie mense sukkel om weg te kom van ‘n slegte verlede.
Party kom nooit weg daarvan nie. Ons moet egter weet dat die
kruis se lig ook oor ons verlede val. Die kruis is terugwerkend en
vooruit werkend. Dalk het jy in die verlede dinge gedoen waaroor
jy steeds baie skaam is en dat jy voel dit bly jou agtervolg. Besef nou,
jy hét reeds, of kan dit ook nou aan die kruis se voet gaan neersit!
Moenie toelaat dat die skaduwees van skuldgevoelens en selfverwyt
jou lewenspad langer donker maak nie. Bereik nou, in die Here,
jou volle potensiaal!

Jou geloof kan net groei as jy dit regkry om die Here toe te laat om
jou kop van hoek tot kant skoon te maak van al die laste van die verlede.
Die Here wil dit doen en jou onder beheer van die Heilige Gees laat leef.
Laat die Heilige Gees toe om jou denke te beheer sodat jy nuut kan leef.
Jou lewe gebeur in jou kop.

God wil jou verander deur jou denke te vernuwe – Romeine 12:2.
Jy het die keuse om dit toe te laat, of om die Heilige Gees te weerstaan.
Daarom se Paulus in Romeine 12:2: “... maar láát God julle verander deur
julle denke te vernuwe...”.

Ons kan byvoorbeeld vir baie jare met skuldgevoelens loop deurdat
ons self verkeerde betekenis aan ons ervarings geheg het. Daarom moet
jy jou denkpatrone in die Gees van God se hande plaas wanneer Hy besig
is om jou nuut te maak! Die Gees sal jou help om te onderskei wat is
waarheid en wat is leuen. Hy vra jou samewerking!
Láát God jou verander...!

Die Heilige Gees dwing nie Homself op jou af nie. Jy kan die Gees
weerstaan. Jy moet daarom die Gees toelaat en jouself totaal gee vir
die beheer van die Gees! Doen dit met al die dinge uit die verlede wat
jou terughou om met volle oorgawe vir die Here te lewe. Gee al jou
seerkry en pyn vir die Here wat jou nuut maak deur die Gees wat in
jou woon. Dink nuut en leef nuut!... deur die Gees wat in jou woon!

Ernest