God se wil is regoor al die bladsye van die Bybel geskryf,
in die helderste genade-skrif. Ons sien Hom ook in al sy handewerk,
elke dag rondom ons. Wat ‘n groot God aanbid ons nie!
Selfs nie eers die donkerste sonde kon sy genade-werk vernietig nie.
Ook nie in jou lewe nie! Orals is die spore van sy goedheid en
grootheid te sien. In die sonsopkoms en ondergang van die son,
in die maan en sterre, in die lag van ‘n kind en die wonder van
‘n baba wat gebore word, in die glas koue water van ‘n
barmhartige Samaritaan.

Ongelukkig het die sonde swart strepe in die wêreld kom trek.
God het egter nie sy rug op die wêreld gedraai nie, en tot vandag
toe is God besig om op te tel en heel te maak. Ook vir my en jou
het hy iewers langs die pad opgetel en nuut-gemaak. As dit nog
nie met jou gebeur het nie, steek net jou hand uit na Hom toe!
Hy maak jou ‘n nuwe mens, ‘n nuwe skepping. Hy gee ons ‘n
nuwe kop met nuwe denke. Daarmee kan ons gedagtes bedink
wat Hom verheerlik. Hy gee ons ‘n tong wat sy lof verkondig.
Hande en voete wat kan doen en gaan waar dit tot sy eer strek.

Wat ‘n voorreg om ‘n nuwe mens te wees. Ons kan nou God
se gedagtes agterna dink. Ons het die Bybel waarin dit helder
en duidelik aan ons geopenbaar is.
Hoe meer ons deel van die Woord van God word en hoe meer
die Woord van God deel van ons wêreld word, hoe meer word
ons koppe met nuwe inhoud gevul. Hoe meer jy die Woord lees,
hoe meer word God se wil in jou kop geaktiveer deur die Gees.
Die oplossing vir ‘n sterk geestelike lewe is so eenvoudig:
Lees die Woord van God. Geniet dit! Maak jou kop vol daarmee.
Dan sal jy agter God aan begin dink, én praat én doen!

Psalm 1:1-2: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van
goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges
saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.”
Vind jou lewensvreugde in die Woord van die Here!

Ernest