Geen situasie is hoop-loos nie.
Ons het altyd die keuse hoe om dit te hanteer.
Ons het wel nie altyd beheer oor wat met ons gebeur nie,
maar ons het beheer oor hoé ons daarop reageer! Regtig!
Niks kan daardie keuse, hoe ons op iets reageer, by ons
wegneem nie.

Dit is maklik om moedeloos te raak as die onweerswolke
rondom ons saampak. Dan is ons oog op die storm gerig
en nie op Hom wat ook ín die storm beheer het nie.
Dink maar aan Jesus en sy dissipels op die stormsee.
Ons moet die kuns leer en beoefen om midde-in die storm
op God te fokus, en nie op die storm nie. Dan het jy hoop
in die grootste krisis denkbaar.
Want jy weet dan God is ook dáár, saam met jou!

Skuif jou gedagtes elke dag in elke situasie na God toe.
Doen dit voor die operasietafel se deure. Of wanneer jy
by jou baas se kantoor moet instap terwyl personeel
verminder word. Of wanneer jy jou kinders se seerkry
moet help dra. Sien die Here raak midde in die storm.

Dink jouself deur die storm met jou gedagtes gerig op Hom!
Dit gaan nié die krisis wegneem of minder maak nie.
Dit gaan egter jou perspektief daarop heeltemal verander.
Jy gaan meer geloof hê, meer hoop, meer geestelike krag.
Die energie en insig van God se Gees, wat Hy vir jou wil gee,
gaan skielik in jou lewe invloei omdat Hy jou staande wil hou!

Gebruik doelbewus jou kop, wat daagliks al hoe meer vernuwe
word tot God se eer, juis omdat jy jou kop vul met sy beloftes,
tot sy eer. As jy nie meer weet hoe om vorentoe te gaan nie,
is God nog altyd by jou. Hy het jou nog nooit gelos nie.
Dalk het jy in jou krisis Hom vergeet, maar Hy los jou nie.

Sien en weet dat die Here by jou is! Hoor Hom! Sien Hom in
beheer van die storm! Sien hoe die Here voor jou stap,
en trap elke keer met elke stap in sy spoor. Tree vir tree.
Moenie links of regs afdraai nie. Kyk waar Jesus se
voetspore lê, en sit jou voet presies daar neer.

Hoe meer jy doelbewus in jou kop jou lewe aan God anker,
hoe meer hoop en krag begin jy ervaar! HY gee dit! Dan begin
jy al hoe meer saam met Paulus sê: “Ek is tot alles in staat deur
Hom wat my krag gee.” – Filippense 4:13. Dan kan jy die goeie
en die slegte, wat die lewe na jou kant toe aangee,
met hoop en krag van Bo hanteer.

Ernest