Soms voel mens of jy aanhou gee en min terugontvang.
In jou werksplek, of in jou gesin, of met vriende….
So in jou gee, en doen, en uitdeel, voel dit of jy leegloop.

Weet dan; die Here is die Een wat jou sien en weet wat jy doen.
Hy ken en verstaan jou hart.
Hy het Homself hier op die aarde tot die dood toe gegee.
Hy weet hoe dit voel, wanneer jy voel of jy niks meer oor het nie.

Juis daarom lees ons dat Hy dikwels voor dagbreek verdwyn het.
Hy het alleen met sy Vader gaan praat,
om weer gevul te word met krag tot diensbaarheid.
Jesus het self mens kom word,
en weet hoe ‘n leeggeloopte hart voel.
Hy ken die mens se selfsug.
Daarom is hy veral ook daar,
om dié te help wat die kuns aangeleer het,
om onvoorwaardelik hulleself te gee!

Jesus weet dat Hy binnekort verraai gaan word,
deur sy vriende verlaat gaan word,
en stoksiel alleen, Godverlate, aan die kruis gaan hang.
En juis dan is Hy die Een wat op sy knieë gaan,
en Self sy dissipels se voete was.
Hy leef daadwerklik diensbaarheid in sy moeilikste omstandighede!
Hy deel onbaatsugtig liefde uit.

Hoe kan ons nie ook in sy krag aanhou doen wat Hy doen nie!
Hy wil, deur ons!
Daarom kan ons met sy woorde van Matteus 5:7 saamleef:
“Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee.
God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel hy vir hulle omgee.”

Ernest