In ‘n aangrypende boek oor genade vra Philip Yancey die vraag:
“What’s so amazing about grace?” Wat is so groot en so groots
aan genade dat dit die Christendom deur die eeue aan die praat
hou?
En tog, na eeue se genade-woorde verstaan ons nog steeds nie
hoe groot God se genade is nie. Mense sukkel steeds voort op
selfgemaakte geestelike krukke ... en hulle praat steeds woorde
soos: “Ek doen my bes om God tevrede te stel”, en “ek hoop
maar vir die beste...want net God weet”. Regtig?! Verstaan jy?

Genade is die kenmerk van die Christendom! Die onbeskryflike
groot genade waarvan die Bybel praat, kom net van God af.
Verniet. Oorvloedig. Jy kan niks daarvan verdien nie!
Sonder genade, en sonder om die grootheid daarvan te besef,
is ons lewe oneindig arm! God begin oor en voor met die mens!
Met elkeen van ons persoonlik! Genade maak dat God mense
nooit afskryf nie. Genade maak dat God elke keer weer talm
met sy oordeel. Genade sê daar is altyd vir jou ‘n beter weg
as hopeloosheid of onsekerheid.

Genade verander ons verlede en ons toekoms! Dink daaroor:
Genade neem jou sonde van die verlede weg! Genade gee jou
‘n toekoms saam met God. Genade omvou ons met hoop!
Genade laat jou weer leef en droom. Efesiërs 2:3-5:
“... Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander
mense deur God gestraf moes word. Maar God is ryk in
barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het
Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met
Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!”
Lees dit weer. Lees dit nog ‘n keer. Dit is so groot!
Só gróót! Leef daaruit!

Ernest