Murray Janson het treffend gesê: “God boer met genade”.
God is so groot dat geen woorde sy grootheid kan vasvang nie.
Hy is groter as al ons woorde en al ons gepraat en al ons denke.
Daar is nie genoeg woorde of die regte soort woorde om God te
beskryf nie. Ook die Bybel is God se Woord in mensetaal. Ook die
Bybel vang nie vir God vas nie. As ons egter wel iets oor God moet sê,
wat sy wese in ons mensgemaakte woorde en begrip probeer vasvang,
dan is dit net een woord wat moontlik gepas sal wees: Genade!
God is die God van genade. Hy is genade. Hy doen genade.

“God boer met genade”. Inderdaad. Alles wat Hy met ons doen
en bedoel is genade, want God is liefde! God deel heeltyd sy genade
uit! En wie is die ontvangers? Wel, almal wat die “verkeerde” mense is.
Dié wat niks daarvan verdien nie! Ons dink ons moet dit verdien.
Niemand verdien dit nie. God gee dit aan almal wat dit nie verdien nie!
Ons almal!

God se genade is ook vir sy vyande bedoel. Ons was ook sy vyande voor
ons gered is. God se genade is vir sondaars bedoel. Ons almal. God gee
genade aan mense wat met gebalde vuiste ten hemele skree. God gee
om en gee genade aan mense wat in hulle sonde verstik. God gee genade
aan mense wat teen hoë spoed op pad is na die ewige dood. God se hart
klop met liefde vir alle mense. Ons sal dit nooit in ons menslike aard
begryp nie. Dit is so groot! Onbegryplik groot. God kom red mý in Jesus,
en kom bly in mý deur die Gees...
Het ons maar net ‘n idee hoe groot dit is?...

Daarom dat Paulus daaroor skryf in Efesiërs 2:6-7:
“Ja, In Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood
en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die
tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die
goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Julle is inderdaad
uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie;
dit is ‘n gawe van God.” Groot! So groot! Leef uit God se genade! Lééf!

Ernest