Jesus het baie van sy tyd op aarde op die markplein van die
sondaars deurgebring. Mense soos Levi, die belastinggaarder,
vir wie Hy roep met “Volg My!”, en wat direk daarna vir hom
‘n feesmaal gee. Al sy sondaars vriende het saam met Levi kom
feesvier, saam met Jesus!

Die geestelikes was diep geskok oor Jesus. Hoe kan Jesus Hom
so verneder om saam met die sondaars van die dorp te eet?
Jesus gaan ook saam met Saggeus, en die vrou van Lukas 7 wat
sy voete was en dit met haar hare afdroog. Jesus was so baie in
die geselskap van sondaars dat die godsdienstige leiers later na
Hom verwys het as ‘n “vraat en ‘n wynsuiper; ‘n vriend van
tollenaars en sondaars” – Matteus 11:19. Maar Jesus het nie
omgegee nie. Sondaars is die eregaste op sy feesmaal.

Hy het vir sondaars aarde toe gekom, nie vir mense wat
dink hulle is beter as ander en het nie genade nodig nie.
Jesus se soektog na sondaars het Hom gedurig laat afdraai na
die uitgeworpenes, die randfigure. Jesus los hulle ook nooit
soos Hy hulle aantref nie! Elkeen wat besef dat hy ’n sondaar is,
en Jesus se uitnodiging na die feesmaal aanvaar, word deur
belydenis van sonde, en die ontvang van vergifnis, uit genade
gered!

Besef dit: Jesus red sondaars! Hy los hulle nooit agter soos
hulle was nie. Hy verander hulle tot Koningskinders. Jesus red nie
mense wat dink hulle is “ok” nie, beter as ander nie, en het genade
en redding nie regtig só nodig nie... Genade is in daardie sin vir die
“verkeerde mense” bedoel, in die wêreldse sin van die woord.

Hoe kry ons genade in die hande? Vra net daarvoor by God,
in opregtheid! Dan kry jy dit! Genade is net ‘n woord ver!
Genade word nie verdien nie. God skenk dit vir dié wat vra!

Ernest