Genade is verniet. Genade word nie verdien nie.
Genade is reeds aan die kruis “verdien”. Jesus is die bewys daarvan!
God gee genade verniet weg aan sondaars. Genade is net ‘n woord ver.
Vra net opreg vir God om jou genadig te wees. Dan kry jy dit!

In die Lukas evangelie tref ons die twee kortste gebede in die Nuwe
Testament aan. Die treffende van hierdie twee kort gebede is dat beide
versoeke om genade is!
In Lukas 18:9-14 lees ons die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar.
Die Fariseër noem al sy vroomhede voor God op, in sy gebed. Alles wat
hý doen vir God. Hy dank ook vir God dat hy beter is as ander mense...

Die tollenaar staan net daar eenkant..., wil selfs nie eers na die hemel
opkyk nie, en vra vol berou oor sy sonde net één ding: “O God, wees my,
sondaar, genadig.” Net dit. Die wonderwerk van sy lewe gebeur!
Dadelik is al sy sonde weggeneem. Hy kan daar wegstap as iemand wat
God se genade ontvang het en wie se lewe verander het!

Jesus sê oor hom: “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie,
het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat
hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog
word.” Hoe dink ek oor myself? Darem nie só sleg soos ander mense nie...

Die tweede kort gebed is in Lukas 23:42. Die man wat saam met Jesus
aan die kruis hang en vir Hom sê-vra: “Jesus, dink aan my wanneer U in
u koninkryk kom.” Net dit. Hy vra nie eers vir vergifnis of ‘n plek in die
hemel nie. Maar Jesus sien sy hart... sy berou. Hy bedel net ‘n oomblik
se ontferming van die Here. En wat kry hy? Net daardie oomblik? Nee!

Kyk net wat sê Jesus vir hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met
My in die paradys wees.” – vers 43. Die man ontvang die ewigheid!
Deur die grootheid van God se genade! By Jesus kry jy altyd meer as wat
jy dink! Jy kry die lewe in oorvloed, ewige lewe by God, deur net te vra!

Vra genade van God. God gee dit verniet weg. Jý hoef nie goed genoeg
te wees daarvoor nie. Niemand is uit jouself goed genoeg daarvoor nie.
God gee dit alles uit liefde en genade! Besef dit nuut!...
en gaan lééf dit nuut!

Ernest