“Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word,
sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek
vanwee die verlossing deur Jesus Christus.” – Romeine 3:23-24.
“...sonder dat hulle dit verdien...”
God se genade is uniek. Dink net daaroor:
Niks wat jy ooit in jou lewe doen, kan maak dat God nog meer van jou hou
nie. En niks wat jy ooit doen, kan maak dat God minder van jou hou nie.
Dit is God se genade en liefde! Genade beteken dat God jou vat net soos jy is,
maar dat Hy jou nooit los soos wat Hy jou gevind het nie. Genade verander
jou totale lewe. God se genade maak ook dat Hy nooit wisselende gevoelens
oor jou het nie. Jou eie leefwyse maak ook nie dat God telkens sy siening oor
jou verander en dan meer of minder van jou hou nie. Wanneer jy volgens God
se wil leef, is dit net aan sy genade te danke. Wanneer jy foute maak,
droogmaak, en sonde doen, sal sy genade jou weer oorweldig. Sy genade
in jou lewe sal maak dat jy keer op keer kan bely en uit genade kan leef.
Ons as mense verstaan dit moeilik. Ons wil net genade bewys aan die wat
dit in ons oë verdien. Vir mense wat in ons oë sleg is, en slegte dinge doen,
het ons nie genade oor nie. Ons genade vir hulle is op. Ons veroordeel hulle
en skryf hulle af. God is hierin totaal anders as ons. Gelukkig.
God word nie ontrou as ons ontrou aan Hom raak nie. God verraai ons nie
wanneer ons Hom verraai nie. Hy hou nie op om ons lief te hê wanneer ons
Hom nie genoeg liefhet en dit uitleef nie. God is altyd getrou aan Wie Hy is
in sy genade en liefde! Ons is nie weerloos aan ‘n wispelturige God
uitgelewer nie. Dit is genade!
Die goeie nuus van God se genade is dat dit nooit van ons afhanklik is nie.
God bewys nie genade aan ons op grond van iets goeds wat ons gedoen
het nie. Hy bewys juis genade aan ons ten spyte van al die slegte dinge
wat ons doen! God sal ook aanhou genadig wees met ons ten spyte van
sy wete van wat ons nog gaan doen. Ons verstaan regtig nie veel van
hierdie groot genade van die genadige God wat ons geskep het nie.
Sy genade is werklik ten-spyte-van genade! Ten spyte van ons swakheid,
ons broosheid, ons verraad, ons sonde... ten spyte van alles, hou Hy net
aan en aan met sy genade! So is God!
William Barclay het gesê: “Die woord “genade” beklemtoon
terselfdertyd die hopelose armoede van die mens en die
grenslose liefde van God”.
Ernest